Die baba is Saterdag 15 Junie gebore. Beyoncé, wie se man, Jay-Z, saam met Kanye aan die album Watch the Throne gewerk het, het haar webtuiste gebruik om haar goeie wense oor te dra.

Oor ’n groot foto van Kim en Kanye saam het Beyoncé geskryf: “Geluk, Kim en Kanye. Geniet hierdie mooi oomblik saam.”

Intussen het Kim se goeie vriend Jonathan Cheban onthul dit gaan “uitstekend” met Kim (32). Hy het aan People.com gesê: “Dit gaan uitstekend met Kim en sy kan nie gelukkiger wees nie. Sy is in die wolke vir haar en Kanye. Sy straal.”

Kanye (35) was in die kraamsaal by die Cedars-Sinai Mediese Sentrum in Beverly Hills toe Kim natuurlik die lewe geskenk het. En al is die paartjie se dogter vyf weke vroeg gebore, is sy gesond en het sy by geboorte 2,2 kg geweeg.

’n Bron het voorheen gesê: “Natuurlik was Kanye by toe Kim hospitaal toe is en die baba gehad het. Sy het laat Vrydag begin siek voel en het kraampyne gehad. Dit gaan baie goed met hulle almal.”

’n Paar van Kim se goeie vriende, onder andere Jonathan en Brittny Gastineau, het haar in die hospitaal besoek met pienk ruikers in hul hande.