Jay Z moes sy beste voetjie voorsit toe hy met Beyonce begin uitgaan. Sy was glad nie beïndruk dat hy ’n rapper is nie.

Die 43-jarige rapper en die Hallo-sangeres was in 2001 saam op die voorblad van Vanity Fair se musiekuitgawe. Hy vertel hy moes Beyonce baie uitneem om haar beter te leer ken. In ’n onderhoud met die tydskrif het hy van daardie tyd gesê: “Ons het toe net probeer om te begin uitgaan. Jy weet, jy moet eers hard probeer. Jy moet haar betower . . . met wyn en kos.”

Die twee is in April 2008 in die geheim getroud en is nou die trotse ouers van Blue Ivy (20 maande). Albei het ’n suksesvolle loopbaan. Volgens die tydskrif Forbes is die Holy Grail-rapper en baas van Roc Nation R5 biljoen werd. Tog glo Jay Z sy vrou sou met hom uitgegaan het selfs al was hy nie so bekend nie omdat hy so ’n “koel” ou is.