Beyoncé en Jay-Z het meer as R75 000 uitgegee op geskenke vir Kim Kardashian en Kanye West se eersteling, North.

Die geskenke het Christian Dior-babaskoene ingesluit wat spesiaal vir North gemaak is, asook ’n Elsa Peretti Padova-driestukbabastel van sterlingsilwer met die twee week oue kleinding se naam op.

’n Bron het gesê: “Kanye is een van Jay-Z se beste vriende, so hy wou die ideale geskenk kry. Omdat Beyoncé en Jay-Z ’n dogter het, het hulle geweet watter soort geskenk om te kry. Hulle het hul dogter, Blue Ivy, saamgeneem om North te ontmoet. Sy is nou al oud genoeg om baie in babas belang te stel.”

Beyoncé en Jay-Z het die geskenke afgegee by Kim se ma, Kris Jenner, se huis in Beverly Hills. Die sangeres het Kim ook raad gegee oor hoe ’n mens van die swangerskapvetjies ontslae kan raak.

Die bron het verder aan The Sun gesê: “Enige geskille wat daar dalk was, is iets van die verlede noudat Kim ma geword het.”

Dis nie die eerste keer dat Beyoncé-hulle so uithaal en wys nie. Vir Kim se ooievaarstee verlede maand het hulle haar bederf met ’n Carla Monchen-babastoel. Dis bedek met Swarovski-kristalle en het ’n koel R135 000 gekos.