Die inwoners van ’n straat in Crawford in Kaapstad voel verontreg en ongelukkig nadat die stadsraad ’n amptelike lys van die grootste waterverbruikers in die stad bekendgemaak het en hulle bo-aan pryk.

crawfordwater

“Ons as inwoners van Haywoodstraat in Crawford wil ’n versoek aan die media asook lede van die publiek rig om ons privaatheid te respekteer en ons toe te laat om aan te gaan met ons daaglikse aktiwiteite sonder om gepla te word,” het Saleem Gamza in ’n verklaring namens al die inwoners gesê.

Volgens die stadsraad se lys van watergebruikers woon die topverbruiker in dié straat. Maar dit het intussen aan die lig gekom dat die hoë verbruik weens ’n ondergrondse lekkasie was.

Die inwoner van die betrokke huis verkies om anoniem te bly.

“Sedert die Kaapse stadsraad die lys van die grootste waterverbruikers in die munisipale area bekendgemaak het, is mense in die straat deur gewone mense, sosiale gebruikers en verslaggewers geteiken,” verduidelik Saleem.

“Foto’s is van onskuldige inwoners se eiendomme geneem en nuusberigte sleep voort. Daar is ook in die sosiale media gespekuleer (oor wie die topverbruiker is). Die situasie is onuithoudbaar.”

’n Inwoner van die straat het aan Huisgenoot gesê sedert die lys bekendgemaak is, het sy navrae uit verskeie oorde gekry.

“Selfs my dogter wat in Kanada woon, wou by my weet wat in Haywoodstraat aan die gang is.”

Priya Reddy, ’n woordvoerder van die Kaapse stadsraad, het by navraag gesê hulle het nooit enige van die inwoners se name op die lys bekendgemaak het nie en dat individue se name deur die media opgespoor is.

“Ek dink hierdie is ’n saak tussen die media en die inwoners op die lys,” sê sy.

Volgens haar is dit nog nie duidelik of ’n soortelyke lys in die toekoms bekendgemaak sal word nie.