AL VERWAG ons van ons kinders om stil te sit sodat hulle kan leer, is te veel stilsit – in motors en voor rekenaar- en TV-skerms – ’n probleem vir oud en jonk in ons moderne samelewing.

Ons liggaam en veral ons kinders s’n het beweging broodnodig.

“Ons leef in ’n kultuur waarin steeds geglo word kinders moet ‘stilsit’ om te leer. Navorsing het al oor en oor bewys kinders wat beweeg, leer makliker en is gelukkiger,” sê Lizanne du Plessis, ’n Kaapse arbeidsterapeut en skrywer van die boek Maak Gelukkige Kinders Groot*.

Lizanne, self ’n ma van twee, het raad vir superma’s oor hoe om hul kinders aan die beweeg te kry.

Hoekom moet my kind beweeg?

“Kinders het beweging nodig om fisiek, emosioneel, sosiaal en intellektueel te ontwikkel,” sê Lizanne. “Dit bring ook die nodige balans in die brein sodat hulle opdragte kalm en rustig kan volg, kan fokus op wat nodig is en gelukkig kan voel.”

Jou kind se brein en liggaam ontwikkel nog; daarom moet hulle gereelder en intenser beweeg as jy. “Verskeie probleme, party selfs lewensgevaarlik, kan ontstaan as kinders nie genoeg beweeg nie,” waarsku Lizanne. Hulle kan byvoorbeeld groot motoriese agterstande ondervind, soos probleme met balans en koördinasie.

Weens fyn motoriese agterstande kan hulle sukkel om met ’n skêr te knip, ’n potlood vas te hou, knope en ritssluiters vas en los te maak en ’n mes en vurk te hanteer.

Te min oefening kan ook ’n rol speel by ’n groot verskeidenheid probleme – van lusteloosheid tot hiperaktiwiteit, van buierigheid tot vetsug.

Ken jou kind

Hoeveel beweging jou kind nodig het, sal van sy temperament afhang, sê Lizanne. Sy gebruik drie soorte diere om kinders se verskillende temperamente te beskryf. Party kinders is ’n kombinasie van meer as een.

  • Apies: Hierdie kinders is sosiaal, op en wakker en aan die gang. Hulle soek voortdurend geleenthede vir kontak met ander mense en die wêreld om hulle. Kinders met hierdie temperament smag na intense beweging. Hulle hou ook van doelgerigte stop-en-wegspring-aktiwiteite. Hulle is energiek en geniet spring- en tolaktiwiteite soos bollemakiesies en wawiele, rowwe spel en avontuur.
  • Krimpvarkies: Hierdie kinders is sensitief, opmerksaam, beleef en fyn ingestel op die omgewing en mense om hulle. Hulle het minder intense en gereelde beweging as apiekinders nodig. Respekteer hul temperament en gee hulle geleentheid om te sê wanneer hulle genoeg gehad het. Krimpvarkies verkies stadiger, rustiger en voorspelbaarder bewegings wat hulle kan beheer, soos skopfietsry, swaai en klim en klouter.
  • Kameelperde: Hierdie groep kinders is rustig, bedaard en aanpasbaar. Hulle word maklik tevrede gestel, speel gemaklik op hul eie en skroom nie om met enigiets of iemand te speel nie. Hulle geniet meer beweging as krimpvarkiekinders, maar soek dit nie voortdurend soos die apiegroep nie. Party kameelperdkinders moet aangemoedig word om oefening te kry.

Wat kan ons doen?

Bewegings wat ons waarneming van ons eie liggaamsposisie (propriosepsie) stimuleer, is baie belangrik vir kinders se ontwikkeling. Aktiwiteite wat druk op die spiere en gewrigte plaas – enigiets waarby stoot, trek, hang en vashou betrokke is – help hiermee.

“As ons hierdie soort aktiwiteite deel van ons kinders se daaglikse roetine kan maak, het ons gewen,” sê Lizanne.

Voorbeelde van sulke aktiwiteite

Soggens

  • Kruiwaloop na die kombuis.
  • Seil soos ’n slang of kruip soos ’n krap na die badkamer.
  • Suig jogurt deur ’n strooitjie.
  • Eet kos wat onder ’n mens se tande knars soos appels, rou geelwortels, neute en sade.
  • Ouer kinders kan touspring; jonger kinders kan heen en weer spring oor ’n tou wat op die grond lê.

Ná skool

  • Ry op ’n driewiel, skopfiets of trapfiets.
  • Trek jou kind op ’n kombers in die gang.
  • Speel lekker rof op jou bed – rol, gooi die kussings na mekaar, kielie.
  • Moedig jou kind aan om op hul maag op ’n skaatsplank te lê en in die gang af te ry deur net hul arms te gebruik.
  • Speel toutrek.

Badtyd

Spuit water uit ’n spuitbottel.

Blaas borrels deur ’n strooitjie.

Doop sponse van verskillende groottes en vorms in die water en druk die water uit.

- Suzaan Hauman

* Maak Gelukkige Kinders Groot deur Lizanne du Plessis (Metz Press, R153** by kalahari.com).