OP DIE video sien hulle ’n ouer se ergste nagmerrie – in die dagsorgsentrum waar hulle elke dag hul kosbare kinders gaan aflaai, word ’n kleintjie teen die enkels geslaan.

’n Meisietjie sit gelate op die grond, vasgebind aan ’n lessenaar met ’n tou. In die agtergrond hoor jy hoe ’n vrou vir die kinders sê: “Onthou, moenie vir mamma en pappa sê nie, anders gaan julle nie ’n verrassing kry nie.”

Die video van wat by die dagsorgsentrum Babbelbekkies in Pretoria-Noord aan die gang was, het met ’n ompad by van die ouers uitgekom. ’n Berig daaroor het toe vroeër vandeesmaand by ’n plaaslike koerant beland, en die dag daarna was net 11 van die 34 kinders by die skool.

Mynie Kruger, die gewese hoof van Babbelbekkies wat nou na ‘n administratiewe pos verskuif is, stry teen die trane terwyl sy vanuit die dagsorgsentrum in Pretoria met ons praat.

Sy onthul ’n jong vrou het aan die skool se prokureur erken dat sy die videobande opgeneem en vir die ouers gewys het. Mynie glo die jong vrou wou haar naam beswadder en die kleuterskool oorneem vir geldelike gewin.

“Ek ken die jong vrou uit die buurt en toe sy my 10 maande gelede nader vir werk, het ek haar vertrou en haar gevra om na die kinders te kyk. En dit is wat sy gedoen het . . . “

Mynie sê die vrou is nie ’n opgeleide onderwyser nie. Maar sy erken wel sy het self die kinders dan en wan geslaan. “Ek het baie hard gewerk vir die plek en ons het goeie kinders opgelewer, maar nou is ek die vark in die verhaal, en dit omdat ek iemand anders vertrou het.”

Mynie se prokureur, André Grobler, het bevestig die vrou sal vroeg in Oktober dissiplinêr verhoor word. Hulle sal dit dan oorweeg om ’n klag by die polisie in te dien. “Sy sal die gevolge moet dra van wat sy aan daardie kinders gedoen het.”

By registrasie het die ouers glo ’n dokument onderteken waarin staan: “Ek gee toestemming dat my kinders binne perke gedissiplineer word”. Die kleuterskool het nou in ’n brief vir die ouers laat weet kinders sal nie meer “gedissiplineer” word nie, en dat ouers verplig sal wees om kinders wat hulle wangedra, by die skool te gaan haal.

Maar is dit dissipline om ’n kind vas te bind of te slaan? Nee, dis kindermishandeling, sê Noreen Ramsden, woordvoerder van die Sentrum vir Kinderregte in Durban.

En dit gebeur by kleuterskole oral in Suid-Afrika, sê sy.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 30 September 2010