"Hy het maar net sy werk gedoen; daarom het Siyanda Soyizwaki (34) besluit om my verlore beursie met kaarte, geld en al aan my terug te besorg," vertel Huisgenoot-joernalis Pieter van Zyl.

Hy is hierdie week met ’n sertifikaat en ’n paar honderd rand daarvoor beloon deur die bestuur van die V&A Waterfront-winkelsentrum in Kaapstad waar hy as skoonmaker werk.

“As ek na julle hier voor my kyk, is ek bemoedig oor Suid-Afrika,” het Colin Devenish, uitvoerende bestuurder van operasies by die V&A, vanoggend by hul hoofkantoor gesê. Siyanda en 25 ander skoonmakers en veiligheidspersoneel het erkenning gekry omdat hulle “die ekstra myl” gestap het.

“Daar is so baie slegte nuus oor korrupsie en misdaad. Dis julle wat Suid-Afrika ’n goeie plek maak. Dis vir my ook bemoedigend om oor en oor dieselfde gesigte te sien,” het Colin gesê. Hulle doen elke kwartaal hierdie belonings, wat gegrond is op komplimente van toeriste, ander besoekers en huurders in die V&A.

Teen die muur in die saal waarin die beloningseremonie gehou is, is ’n aanhaling deur emeritus-biskop Desmond Tutu: “Do your little bit of good where you are; it’s those little bits of good put together that overwhelm the world.”

Lees ook: Huisgenoot-joernalis vertel die storie van die barmhartige Samaritaan wat sy verlore beursie terugbesorg het

Siyanda het begin Maart Pieter se beursie in die badkamer gekry waar hy dit vergeet het. "Ek het reeds my kaarte begin kanselleer toe hy my van ’n tiekieboks af bel met sy laaste paar sente. Selfs die R40 wat in my beursie was, was steeds daar.

"Hy vertel my selnommer was op ’n stukkie papier in die beursie geskryf."

Pieter vertel nadat hy die storie op Facebook gesit het, was daar baie mense wat aan hom lugtyd en geld wou gee, maar die bestuur het gevra dat hulle hom eerder self wil beloon.

“Ons wil nie hê ons personeel moet eerlikheid aan die dag lê sodat mense vir hulle geld gee nie; ons wil hê dit moet as tweede natuur kom omdat hulle so ’n belangrike deel van die V&A is,” het Colin vroeër vandag verduidelik.

Lees ook: Hierdie vrae meen kenners kan jou help om jou ware self te vind

Sy verhaal van eerlikheid was nie die enigste bemoedigende daad wat vanoggend beloon is nie. Twee ander skoonmakers het ’n toekenning ontvang omdat hulle tussen hulle twee 12 duur items soos iPads, kameras en sakke vol spoggerige klere ingehandig het waarop hulle in die proses van skoonmaak afgekom het.

’n Veiligheidswag het ’n vrou aangekeer wat met ’n Pick n Pay-waentjie vol gesteelde klere ter waarde van R29 000 op pad was na haar kar.

Siyanda en die ander is vasbeslote om aan te hou doen wat hulle doen. Want soos hy dit saamvat: “Dis ons werk en dis die regte ding om te doen.”