Nou sal dié vakansie vir altyd in die Fowler-gesin se herinnerings geëts bly as die naweek toe hul pragtige dogtertjie uit hul lewe geruk is.

Die sewejarige Louise het die rotse langs die kuslyn onder haar ma, Kim, se wakende oë verken toe ’n tamaai golf haar tot in die see trek.

Ná dae se gesoek het die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Hermanus nog niks gevind nie, en Louise – ’n gr.1-leerder aan Greenfield Meisies Primêr in Kaapstad, was teen vanoggend steeds vermis.

’n Inskrywing op die skool se Facebookblad ’n dag ná die voorval, het die hartverskeurende verhaal vertel: “Klein Louise Fowler, een van ons gr. 1-Greenies, is gister tragies van die rotse op Bettysbaai geslaan.”

Die gesin het laer getrek terwyl hulle die onbeskryflike hartseer probeer verwerk, maar soos die dae aangestap het, het nog ’n ma uitgereik na die Fowlers – ’n ma wat presies weet wat hulle deurmaak.

Debbie Bell het in Januarie 2016 haar dogter Abigail verloor. Die 19-jarige Abigail, wat toe pas haar matriekeksamen geskryf het, het verdrink tydens ’n uitstappie saam met vriende en haar lyk is nooit opgespoor nie.

Debbie Bell se dogter, Abigail, wat sedert Januarie 2016 vermis is. Foto: Facebook

Debbie, wat saam met haar man, Gregory, en hul dogters Lynique (24) en Gaynore (17) op Somerset-Wes buite Kaapstad woon, het in ’n ope brief haar pyn met hulle gedeel in die hoop dat haar verhaal sou aanklank vind by klein Louise se ouers en vir hulle ’n mate van vertroosting sou bied.

“Berusting: Dit is ’n konsep wat ons sukkel om te verstaan. Wat behels dit? En wat gebeur as jy nooit daardie punt bereik nie? Ons het beslis nie.

As berusting ’n voorreg is wat ons nooit beskore is nie, moet aanvaarding sekerlik daarop volg. Maar selfs dit is buite ons bereik.

Ons gaan dus maar net aan. Die lewe gaan voort en ons druk roboties deur. Dis nie maklik om te skryf oor wat gebeur het nie. Ons praat nie veel daaroor nie en mense verkies in die algemeen om die onderwerp te vermy.

Dit was ’n warm somersdag op 5 Januarie 2016 toe Abigail se vriendinne haar kom oplaai om ’n dag op die strand (sowat 20 minute weg en naby Gordonsbaai) by Dappat se Gat deur te bring. Dit was ’n dag voor sy haar matriekuitslae sou kry en terwyl sy en haar vriende angstig op die uitslag van maande se bloed, sweet en trane gewag het, het hulle besluit om vir ’n paar uur die somerson te geniet.

Ons het om 19:20 daardie aand ’n oproep ontvang om dringend te gaan na ’n plek op die strand wat bekend is as gevaarlik vir swemmers weens die sterk sleurstrome.

Toe ons die strand nader, het ons ’n toneel gesien waarmee geen ouer begroet wil wees nie. Rooi helikopters het in die lug gesirkel, en daar het oral op die strand ambulanspersoneel, polisielede en seereddingsbeamptes gestaan.

Ons ergste nagmerrie het ’n werklikheid geword – ’n stroom het drie van die vriende meegesleur. Twee van die meisies is gered. Abigail was weg.

Abby was ’n liefdevolle, vriendelike meisie wat maklik geglimlag het. Sy het ’n onwrikbare passie vir omgewingsbeskerming gehad en was van plan om mariene biologie aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) te studeer.

Sy het van kleins af gesê sy wil eendag as sy ouer is saam met die dolfyne swem. Haar liefde vir die see het haar vreesloos en dalk naïef vir die gevare gemaak.

’n Donkerte het daardie noodlottige Dinsdagaand oor die strand gehang. Dit was hooggety en die branders was rusteloos en onstuimig, maar die reddingswerkers het ure lank na ons dogter bly soek. Niks.

Hulle het dagbreek die volgende oggend weer uitgegaan en dit elke dag vir die volgende twee weke gedoen; die oseaan gefynkam wat ons pragtige kind geëis het. 

Familie en vriende het ’n maand lank elke dag die strand gefynkam, tot ons eindelik gedwing is om die aaklige waarheid te aanvaar. Abby kom nie terug nie. Ons het ná 11 dae besluit om ’n intieme gedenkdiens te hou.

Die soektog is afgelas toe die winter aanbreek – daar was geen hoop om haar te kry nie, het die reddingspan gesê. Maar ons kon nie ophou om nog aan ’n bietjie hoop te klou nie.

Hoop is wat ons gesin aan die gang gehou het – ’n splinter van ’n silwer randjie dat sy dalk gevind kan word. Net dalk.

Ons klou steeds aan die geloof dat iemand haar kon gevind het en dat sy nou elders woon, nie in staat om huis toe te kom nie of dat sy nie onthou waar haar huis is nie.

Die hunkering dat sy op ’n manier sal terugkeer as die geleentheid hom voordoen, wil net nie weggaan nie. Dit is hoekom ons nie ophou soek het elke keer as ons see toe gaan nie, wanneer ons ook al ons voet op ’n strand sit.

Hoe het ons die verlies van ons dogtertjie hanteer? Die Vader alleen weet.

Aan die begin het ons net aangegaan met daaglikse dinge, asof ons sonder enige rigting rondgedobber het. En toe kom die stortvloed vrae – sonder antwoorde.

Ons het oorleef danksy ons vriende, familie en die kerk se gebede. Ons geloof was en bly die hoeksteen waarop ons krag gebou is. Ons vertrou in God en sy beloftes en glo alles werk ten goede uit vir diegene wat in Hom glo.

Iemand het aan die begin vir ons gesê om net die goeie wense van diegene om ons in te neem. Verskeie mense het gekom en die “verkeerde” goed gesê terwyl ander presies gesê het wat ons moes hoor. Maar ons het krag verkry uit die wete dat ons in mense se gedagtes en gebede was.

Ek wil aan klein Louise Fowler se ouers sê: Ons weet wat julle deurmaak. Ons weet dit voel asof dit nooit gaan beter word nie. Die waarheid is dat die pyn nooit regtig weggaan nie, maar dit raak mettertyd minder intens.

Julle sal op ’n manier as gesin ’n manier kry om jul hartseer onder die radar te hou en aan te gaan met jul lewe. Die pyn sal altyd daar wees, maar jy leer om daarmee saam te leef – al lyk dit op die oomblik onmoontlik.

Vind vertroosting waar jy kan. Ek kry myne hieruit: Dit was Abby se droom om saam met die dolfyne te swem. Dalk is haar wens nou bewaarheid.”