Dié legendariese aktrise is reeds langer as 75 jaar in die TV- en rolprentbedryf en het in talle trefferreekse opgetree, onder meer The Golden Girls, en onlangs Hot in Cleveland. Laasgenoemde reeks gaan ná ses seisoene tot ’n einde kom. Betty het tydens ’n geselsie met USA Today tyd ingeruim om daaroor te gesels. “Ek is regtig nie seker of dit my loopbaan aanhelp nie. Die publiek kan nou maar een maal nie van my ontslae raak nie. Maar ek hou daarvan dat dit so is,” het sy gesê en gelag.

'Ek is 93, en sterk en gesond. Werk is pure plesier.'

“Gewoonlik bereik jy ’n sekere ouderdom – en in my geval was dit al ’n klompie dekades gelede – en (die werk) droog op, maar o, ek was so gelukkig. Ek is 93, en sterk en gesond. Werk is pure plesier. Ek weet dit kan nie vir altyd aanhou nie, maar ek maak die beste van dit wat my kant toe kom.”

Betty het twee opeenvolgende Screen Actors Guild Awards gewen vir haar spel as Elka Ostrovsky in Hot in Cleveland. Valerie Bertinelli, Jane Leeves and Wendie Malick het ook daarin gespeel. Sy het amper die eerbewyse misgeloop, aangesien die ster beken het dat sy in die eerste plek nooit beplan het om deel te wees van die vertoning nie.

“Hulle het gevra ek moet in die loodsprogram optree. Ek het gesê ek sal dit doen, maar ek kan my nie verbind as die reeks ’n sukses is nie. En toe neem ons almal deel aan die loodsprogram en raak almal daarop verlief,” onthou sy.

“Ek het ook in die laaste aflewering gespeel. En in al die aflewerings tussenin. Dit was ’n heerlike ervaring.”

Benewens haar TV-loopbaan, het Betty ook sukses behaal in rolprente, soos The Proposal, waarin sy saam met Sandra Bullock en Ryan Reynolds gespeel het. Die ster het so baie ondervinding dat sy nie anders kan nie as om ’n paar wyshede met jong akteurs te deel.

“Geniet jou werk, maar maak erns daarmee. Wees betyds. Kom voorbereid werk toe. Leer jou woorde,” het sy gesê. “Moet nooit ooit dink jy kan improviseer nie, want jy kan nie regtig nie. ’n Mens kan dit in jou oë sien.”

© Cover Media