Nadat kampusse die laaste paar weke ontwrig is, het studente gehoop die koms van die nuwe week gaan verligting bring, maar dit lyk asof studentebetogings hierdie week ook gaan voortwoed. Studente en hul ouers se groot kopseer is nou die feit dat eksamens nader kruip. Nie net kan studente nie hul laaste klasse voor die eksamen begin, bywoon nie, maar die gevolge kan ernstig wees indien studente nie vanjaar hul eindeksamen kan aflê nie. By die meerderheid plaaslike universiteite begin eindeksamens aan die einde van Oktober en spook universiteite nou tot dan om vrede op kampusse te skep.

By die Universiteit van Kaapstad moet eksamens op 24 Oktober afskop en raak die tyd min om beheer oor stakende studente te neem. "Die impak van 'n voortslepende vertraging gaan deur ons armste en mees weerlose werkers en studente gevoel word," het die universiteit se woordvoerder, Pat Lucas, in 'n verklaring aan Huisgenoot gesê. "Veral studente wat nie vanjaar klaar kan studeer nie, gaan die finansiële las dra. "Die honderde gesondheidssorgstudente wat veronderstel is om volgende jaar in Januarie die mark te betree, gaan ook hieronder swaarkry. Ons finale ontleding is dat die gevolge van 'n langtermyn stilstand op kampus ernstig en drasties is."

"Ek smeek julle. Ek moet vanjaar deurkom en volgende jaar begin werk as deel van my opleidingskontrak om as geoktroieerde rekenmeester (CA) te kwalifiseer en 'n beter lewe vir my familie te bou," het een bekommerde finalejaar rekeningkunde studente by Wits in 'n brief aan die universiteit gesê.

Indien die saak wel vererger en sommige studente nie kan graadvang, hul akademiese jaar voltooi of betyds begin werk nie, kan daar gronde wees vir 'n eis.

"Maar dit gaan jou soveel geld kos, dit is nie noodwendig die moeite werd nie," sê Marius du Toit, 'n prokureur van Centurion.

Hy sê dat studente eerstens sal moet bewys daar 'n delik is. ’n Delik is ’n onregmatige gebeurtenis wat veroorsaak dat iemand skade ly of benadeel word. Hulle sal ook moet bewys dat hulle onregmatig en opsetlik weerhou is daarvan om te begin werk of klaar te studeer.

"Hulle sal ook iets of iemand moet identifiseer vir wie hulle kwalik neem hiervoor."

As jy dit kan bewys, kan jy tegnies eis vir 'n verlies aan toekomstige inkomste omdat jy een jaar later moes begin werk. "Maar, studente werk nog nie. Dus gaan hulle nie kan eis vir huidige verlies nie."

Marius beklemtoon wel dat hierdie soort uitgerekte hofsaak duur is.

"Ek glo nie die kool gaan die sous werd wees nie."