Bushaltes is ook vernietig. Die Stad Kaapstad kon egter daarin slaag om laat Sondagaand ’n petrolbomaanval by die Phoenix-MyCiti-halte te voorkom.

Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer en stedelike ontwikkeling, sê die Stad se versekeraars bepaal nog die omvang van die skade.

“Hoe dit ook al sy, dit gaan reeds R3,5 miljoen kos om die busse te vervang. Soos ek voorheen gesê het: Die Stad Kaapstad veroordeel hierdie dade ten sterkste.

“Daar is geen verskoning of verduideliking vir die kriminele houding wat ons vordering kortwiek nie en boonop die proses vertraag om ’n inklusiewe en toeganklike stad te skep.”

Die brand by die saal het aansienlike verwoesting gesaai. Byna die hele plafon is vernietig. Betogers het ook die vloer met vullis bestrooi.

Brett het gemaan die Stad se finansiële hulpbronne is beperk.

“Die doelbewuste vernietiging van bates raak lae-inkomstehuishoudings die meeste. Elke sent wat ons nou moet bestee aan die herstel van hierdie bates, kon toegeken gewees het aan beter dienslewering aan inwoners.” 

Volgens Brett is die motief vir die aanvalle op MyCiti-infrastruktuur onbekend. Hy het op die Suid-Afrikaanse Polisiediens 'n beroep gedoen om die skuldiges in hegtenis te neem.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, sekuriteit en maatskaplike dienste, sê die vernietiging van die Joe Slovo-gemeenskapsaal is ’n bitter pil om te sluk, veral omdat die plafon en deure net ’n dag voor die betoging herstel is.

Luidens ’n verklaring van die Stad Kaapstad duur die protesaksie voort.

“Die Stad respekteer die reg van inwoners wat hul sienings wil lug, maar dit moet vreedsaam gedoen word en nie tot die nadeel van ander inwoners nie.”