Die land se twee topmatrikulante in natuurwetenskappe sê die sleutel tot hul sukses was opofferings.

Nomaan Mulla, van die Hoërskool Rob Ferreira op Witrivier in Mpumalanga, en die naasbeste presteerder, Muhamed Charfaray, van Maritzburg College in Pietermaritzburg, is Woensdagaand in Midrand tydens die bekendmaking van die uitslae van die Nasionale Senior Sertifikaat vir hul prestasies vereer.

Nomaan het gesê hy is oorweldig oor die erkenning.

“Ek is regtig in die wolke en dit was vir my ’n skok. Ek is my ouers en al my onderwysers wat my ondersteun het, baie dankbaar. Hulle is die rede waarom ek op hierdie verhoog is,” het hy gesê.

Hy het gesê matriek was stresvol en daar was baie druk op hom om te presteer.

“Dit is baie belangrik om gedissiplineerd te wees en te verstaan jy sal goed soos TV en videospeletjies en fone moet opoffer en ’n goed gebalanseerde lewe lei,” het hy gesê.

Sy raad aan toekomstige matrieks is om doelwitte te stel en alles moontlik te doen om dit te bereik.

Muhamed deel sy mening. “Ek dink ons is albei baie opgewonde en bly oor ons prestasies. Dit was ’n moeilik jaar en daar was altyd iets om oor te stres.”

Hy het gesê hy sien uit na ’n blaaskans.

Bron: News24