"A Mermaid", John William Waterhouse, 1901

Wel, Animal Planet wil hê jy moet so glo. In ’n nuwe “dokumentêr”, Mermaids: The New Evidence, wys die kanaal beeldmateriaal van hierdie mitiese wesens wat na bewering in die Groenland-see verfilm is.

Van die verstommendste beeldmateriaal is op 6 Maart deur ’n duikbootbemanning bekom. Dit wys hoe iets wat na ’n gewebde hand lyk teen die duikboot se venster druk, asook ’n blitsvinnige skoot van ’n mensagtige figuur wat op die seebodem wegswem.

The New Evidence is ’n opvolg van Animal Planet se Mermaids: The Body Found, waarin ’n ongelooflike video te sien is van ’n seun wat ’n meermin op ’n strand teëkom.

Miljoene kykers was met albei programme vasgenael voor hul TV’s en dit het die kanaal die grootste kykerstal nog besorg: Altesaam 3,4 miljoen kykers het na The Body Found gekyk en 3,6 miljoen na The New Evidence.

Die enigste vangplek? Die dokumentêre programme is opgemaak. Die woorde, “Wetenskaplike teorie, CGI-animasie en dramatiese opeenvolging van tonele is gebruik om die denkbeeldige wesens en hul omgewings lewe te gee,” het aan die einde van die krediete verskyn.

Maar selfs dit kon nie sommige kykers se geesdrif demp nie. Nadat die oorspronklike dokumentêr vertoon is, is die Amerikaanse Nasionale Oseanografiese en Atmosferiese Administrasie oorval met navrae. Dit was so erg dat hulle ’n verklaring moes uitreik: “Die oortuiging dat meerminne bestaan het moontlik reeds met die oorsprong van ons spesie ontstaan. Maar bestaan meerminne werklik? Daar was nog nooit enige bewyse dat watermense bestaan nie. Waarom neem hulle dan die kollektiewe onbewuste van amper alle seevarende mense in? Dié vraag word ten beste aan historici, filosowe en antropoloë oorgelaat.”

Tog is die programme op ’n (losweg) interessante idee gegrond: die wateraap-teorie, wat sedert die 1960’s die ronde doen. Volgens dié teorie is ons voorvaders in werklikheid amfibiese ape wat eindelik tot landbewoners ontwikkel het.

Animal Planet se aanpassing van dié teorie is dat Afrika sowat 6,5 miljoen jaar gelede oorstroom is. ’n Klein groep van ons voorvaders het seevaarders geword en moes noodgedwonge by hierdie omgewing aanpas.

Bronne: oceanservice.noaa.gov, animal.discovery.com, huffingtonpost.com, washingtonpost.com, ibtimes.com, businessinsider.com

Deur Kirstin Buick