Groot opwinding heers! Suid-Afrikaners kan reeds via Ster Kinekor en Nu Metro kaartjies bespreek vir Huisgenoot se eeufeesfliek, Vir die Voëls, wat vanaf Vrydag 25 November 2016 in fliekteaters landwyd te sien sal wees!

Na afloop van die fliek se amptelike première op Donderdag 17 November 2016 en die spesiale voorskou op Saterdag 19 November 2016, loop die opwinding hoog en diegene wat dit reeds gesien het, is in vervoering.

Volgens El Broide van People Magazine is dit een van die beste Afrikaanse flieks van 2016 en gaan gehore beslis die fliekteaters met ‘n groot glimlag verlaat.  “A beautiful love story with a twist.  From the very first second of the film, it was clear that ‘Vir die Voëls’ wasn’t going to be your average romantic comedy”.

Vir die Voëls is gegrond op die ware verhaal van Irma Humpel (Simoné Nortmann), ’n korrelkop-rabbedoe wat in ’n trourok voor die kansel beland langs die seun wat haar kleintyd geterg het.

Tot kort tevore het sy vas geglo onafhanklikheid is die enigste vorm van vryheid, maar intussen het Sampie de Klerk (Francois Jacobs) haar oor haar oortuigings laat nadink.

Die verhaal speel in die laat 1970’s af en gaan die hartsnare roer. Dit is ’n nostalgiebelaaide rolprent oor ’n sterk vrou wat haar tyd vooruit was en ’n man met so ’n sterk identiteit dat hy ’n vrou kan respekteer en vir haar liefde veg.

Dit is ’n storie oor die stryd teen jouself en hoe om te keer dat omstandighede en emosionele bagasie jou kans op geluk verongeluk.

The Film Factory het Vir die Voëls is in samewerking met kykNET Films vervaardig. Die rolverdeling sluit ook in Elize Cawood, Nicola Hanekom, Neels van Jaarsveld, Drikus Volschenk, Leandry Smith, Liam Bosman, Lara Kinnear, Candice Kruger en Bennie Fourie. Die rolprent word op 25 November 2016 uitgereik en deur Ster-Kinekor Entertainment versprei.

KYK DIE LOKPRENT HIER

KYK DIE MUSIEKVIDEO VAN HOEKA TOEKA DEUR CHARLIZE BERG