Prins Harry het na bewering weer sy eksmeisie Cressida Bonas begin sien sodat hy hul toekoms saam kan bespreek. Hulle het vroeër vanjaar uitgemaak nadat daar wyd gegis is dat hulle verloof sou raak.

Die 29-jarige koninklike het vroeër vanjaar met die ouddansstudent uitgemaak nadat baie vermoed het hy gaan haar die jawoord vra, maar dit het nou bekend geword dat hulle mekaar by sy woonstel in die Kensington-paleis sien om die moontlikheid van ’n versoening te bespreek.

’n Bron het aan die koerant Mail on Sunday gesê: “Hulle het heeltyd kontak behou nadat hulle uitgemaak het, en sien mekaar nou weer.

“Dit is alles baie vriendelik en niemand sluit die moontlikheid van ’n versoening uit nie, maar Cressida moet besluit – dit is haar skuif.”

Gerugte van ’n reünie het opgevlam toe Cressida verlede week saam met Harry se niggies prinses Beatrice en Eugenie gesien is.

’n Bron het gesê: “Sy is gewoonlik so kamera-sku, maar het geglimlag toe die kameras flits.”

Mense gis ook dat foto’s van Cressida in ’n lang, blou rok Harry nog meer aanspoor om hul verhouding te hervat.

’n Ander bron het bygevoeg: “Harry is die jaloerse soort. Hy het heel waarskynlik die foto’s gesien van hoe asemrowend sy gelyk het.”