Toe Maryanne (45) en Tommy Piling (59) in 1995 trou, het heelparty kritici gesê dié paartjie, wat albei Downsindroom het, behoort nie toegelaat te word om hierdie soort lewensbesluit te neem nie.

Maar Maryanne en Tommy het onlangs hul 22ste huweliksherdenking gevier en is gelukkiger as ooit. Die dolverliefde egpaar van Essex in Engeland sê hulle “stry nooit”. Maryanne vertel Tommy is haar “beste vriend in die hele wêreld” en dat sy hom baie lief het.

Maryanne se ma, Linda, het destyds die wind van voor gekry toe sy instem dat Tommy met haar dogter trou. Hy het vooraf ewe haar toestemming gevra - met ’n speelgoedring wat hy by ’n verkoopoutomaat gekoop het.

“Sy het dadelik ja gesê, maar wou hê hy moet dit ordentlik doen. Sy het Tommy juwelier toe geneem sodat hy ’n behoorlike ring kon koop,” het Maryanne se suster, Lindi, aan die Daily Mail gesê. Lindi bestuur ’n Facebook-blad waar sy mense op die hoogte hou van Maryanne en Tommy se liefdesverhaal.

“My ma is kwaai gekritiseer omdat sy die huwelik toelaat, maar sy het altyd volgehou dit bly hul besluit.”

Die twee is ’n bewys dat heelparty opvattings oor mense met Down-sindroom verkeerd is, sê Lindi. Hulle het oor die jare gelukkig ook baie bemoedigende woorde en hope steun ontvang, voeg sy by.

Die egpaar woon op hul eie, maar familielede in die huis langsaan sit hand by wanneer hulle hulp nodig het.

“Ons troudag was die beste dag van my lewe,” vertel Maryanne oor haar en Tommy se spesiale band.

Bronne: Facebook, Daily Mail