Die konstitusionele hof het bevind pres. Jacob Zuma het die Grondwet oortree nadat hy versuim het om te voldoen aan die openbare beskermer, Thuli Madonsela, se aanbevelings oor nie-veiligheidsgeriewe by sy Nkandla-woning.

Die hof het ook bevind die regstellende stappe wat in die openbare beskermer se verslag van 2014 verskyn, is bindend.

Lees ook: Nkandla: Konstitusionele hof moet sê of Zuma vervolg kan word – James Selfe

Dus moet die president “persoonlik” die bedrag soos vasgestel deur die nasionale tesourie binne 45 dae terugbetaal vir die nie-veiligheidsgeriewe, naamlik die besoekersentrum, amfiteater, veekraal, hoenderhok en swembad. “Ek dink die beslissing is ’n geskiedkundige oomblik wat wys hy is nie ’n waardige leier nie en moenie president bly nie,” het Ralph aan Huisgenoot gesê. In beginsel glo Ralph Suid-Afrikaners behoort tevrede te wees met die stand van demokrasie weens die howe se “vreeslose en goed deurdagte besluit”, maar terselfdertyd is daar ook rede tot kommer. Hoofregter Mogoeng Mogoeng het in sy uitspraak vanoggend gesê die president het versuim om sy grondwetlike plig na te kom. Die hof het boonop die minister van polisie, Nathi Nhleko, en die Nasionale Vergadering se optrede en bevindings as strydig met die Grondwet en ongeldig verklaar.

Ook is bevind die Nasionale Vergadering het versuim om sy grondwetlike plig na te kom om die president aanspreeklik te hou vir die “doeltreffende nakoming, eerder as die ondermyning van die openbare beskermer se bevindings”. “Ek dink dis ’n sterk uitspraak en Suid-Afrikaners kan gelukkig wees daarmee. Maar ek dink ook daar’s rede tot kommer want die president en parlement het die Grondwet oortree en dit wek kommer oor hoe sterk ons demokrasie is,” sê Ralph. “Demokrasie moenie net van die hof afhang nie, maar hang ook af van die bereidwilligheid van ander instellings, wat veronderstel is om mekaar aanspreeklik te hou, om te funksioneer.”
Hy sê dis nou in die ANC se hande wat hulle na afloop van hierdie uitspraak gaan doen.

“Die kwessie en vraag is of die koste om Zuma in die ANC te hê, nie te hoog is nie. En indien die party sonder hom sou voortgaan, moet ons vra wie anders hierby betrokke was. As die party hom beskerm, word hulle medepligtig tot die proses van die Grondwet oortree.”

Hy sê die beslissing gaan dit moeilik maak vir Zuma-ondersteuners om hom te verdedig.

“Ek wag nou om te sien watter verduideliking die ANC gaan gee as hulle hom behou. Wat gaan hulle sê, want dis nie net die president wat onder verdenking is nie, maar ook die parlement. Dis ’n belangrike kwessie.”

“Dis belangrik om daarop te let dat die konstitusionele hof nie kan beveel dat die president vervolg word nie. Ingevolge seksie 89 van die Grondwet mag net die Nasionale Vergadering besluit of ’n sittende president vervolg mag word,” sê die grondwetkenner prof. Pierre de Vos.

“Dis die ANC-leierskorps (en nie dié van die EFF, DA of ANC-lede van die Nasionale Vergadering nie) wat oor die politieke optrede – indien enige – sal besluit wat teen die president geneem word,” skryf Pierre op sy blog. “Die hof is nie by magte om te beveel dat hy vervolg word nie omdat kiesers (en nie onverkose regters nie) besluit wie die land regeer.”

Pierre sê dis in die Nasionale Vergadering se hande om te besluit of hulle die president uit sy amp wil onthef “hoewel die besluit deur die ANC-leierskorps en nie die Nasionale Vergadering geneem moet word”.

“Wanneer so ’n besluit geneem word, sal die regerende party moet besluit of kiesers hulle gaan straf indien hulle nie optree nie. As die party glo kiesers sal hulle nie straf as hulle nie optree nie, is hulle by magte om niks daaromtrent te doen nie – ongeag hoe ernstig die konstitusionele hof se bevindings kan wees,” skryf hy.

Ralph sê vervolging is ’n politieke proses wat in die parlement moet geskied en dit kan ingewikkeld wees.

Die opposisiepartye het dalk ’n sterk saak, maar dis in die ANC se hande of hulle sal luister of nie. “Die woord impeachment is ’n Amerikaanse konsep, maar in Suid-Afrika, as jy vertroue verloor, stem jy die mens uit. Hulle kan ’n mosie van wantroue indien.”

Hy dink egter nie die ANC sou stem vir die mosie wat die opposisiepartye ingedien het nie. “Die parlementroete is dus uit.”

Die ANC kan die president vra om te bedank en hulle hoef hulle nie daarvoor tot die parlement te wend nie.

Die ANC het onlangs aangekondig hulle gaan ondersoek instel oor of pres. Zuma se verhouding met die Gupta-familie tot ’n “staatskaping” gelei het.

“Hulle kan hom oorreed om te bedank en hoef nie deur die vernederende parlementêre proses te gaan waar die opposisie dit as ’n oorwinning kan beskou nie.”

En hoewel dit voorkom of die minister van finansies, Pravin Gordhan, nou die hef in die hand het met die kostebepaling van wat die president moet terugbetaal, glo Ralph dis nie juis ’n maklike taak nie, aangesien hy en die president tot dieselfde party behoort.

“Dis ’n vernederende situasie, selfs vir diegene wat Zuma verpes.”

Die hof het ook gelas dat die president, die minister van polisie en die Nasionale Vergadering die koste van die aansoeke teen hulle, insluitend die koste van die twee advokate, moet betaal.

- Gabisile Ngcobo

Ander stories op Huisgenoot.com:

Huisgenoot-joernalis skryf hoe dit voel om konstant op die wipplank van bipolêre steuring te ry

Francois van Coke gesels oor ouderdom en sê hoe dit hom verander het

Gelukkige einde vir oupa ná ’n hartseer foto van hom soos ’n veldbrand versprei

‘Sy gee my hoop’: Neels van Jaarsveld gesels oor die toekoms, die liefde in sy lewe