Die moordbeskuldigde Oscar Pistorius gaan Woensdag hoor of hy vir psigiatriese waarneming gestuur gaan word nadat die hooggeregshof in Pretoria gehoor het hy ly aan algemene angssteuring.

Regt. Thokozile Masipa het gesê sy sou om halftien die oggend ’n bevel oorhandig.

Die aanklaer, Gerrie Nel, het Dinsdag die aansoek oorhandig en het gesê die tydsberekening van die forensiese sielkundige dr. Meryll Vorster is belangrik. Sy het Oscar op 2 en 7 Mei geëvalueer.

“U Edele, die konsultasie het ná die beskuldigde se getuienis gebeur. Daar moet ’n rede wees hoekom daardie konsultasie toe gebeur het,” het Gerrie gesê.

Barry Roux, SC, vir Oscar, het die aansoek teengestaan.

“Buiten die afwesigheid van die meriete is die aansoek oor voortydig,” het hy gesê.

“Op die oomblik moet ons emosie buite rekening laat.”

Gerrie het gesê dit is nodig om Oscar vir waarneming te stuur ingeval die steuring sy gedrag op Valentynsdag verlede jaar beïnvloed het. Hy het daardie oggend sy meisie, Reeva Steenkamp, doodgeskiet.

“Die beskuldigde was nie die indrukwekkendste getuie nie; is dit nie die rede hoekom ’n sielkundige geraadpleeg is nie?” het Gerrie aan regt. Masipa gevra.

- Sapa