’n 14-jarige seun van Kaapstad is onlangs dood in ’n brand nadat hy ’n wetenskap-eksperiment by die huis probeer het. Sal jou kinders weet wat om te doen as daar ’n brand in jou huis is? Neem die tyd en praat met jou kinders oor brandveiligheid sodat hulle weet wat om in so ’n geval te doen.

So praat jy met jou kinders oor brandveiligheid

Praat altyd met jou kinders op ’n kalm, versekerde manier hieroor. Jy kan dit ook oorweeg om hulle na ’n brandweerstasie te neem as hulle daarin belangstel. Skep ook geleenthede by die huis waar jy oor brandveiligheid kan praat. Jy kan byvoorbeeld jou kind vra om jou oondhandskoene te bring wanneer jy kook of hout aan te dra wanneer jy ’n kaggelvuur maak.

Veiligheidswenke vir jou kinders

Dit is belangrik om met kinders te praat oor wat hulle moet doen as daar ’n brand is – hulle moet weet wat om te doen; dalk is daar tydens ’n brand nie ’n volwassene wat hulle kan help nie. Hier is die belangrikste aanwysings wat jou kinders moet hê:

  • As hulle rook of vlamme sien, moet hulle dadelik iemand roep, verkieslik ’n volwassene, en so gou moontlik uit die gebou gaan.
  • Hulle moet nooit met vuurhoutjies, aanstekers of brandende kerse speel nie. Hulle moet ook wegbly van oop vure en verwarmers.
  • Hulle moenie trek aan elektriese drade of met elektriese toestelle of kragpunte speel nie.
  • Hulle moet dadelik ’n foon opspoor en om hulp bel. Laat hulle die nooddiens se nommer memoriseer, of laat hulle die bure om hulp vra. Maak ook seker hulle ken hul huisadres.

So beveilig jy jou huis

Hier is ’n paar veranderinge wat jy kan aanbring om jou huis te beveilig:

  • Rookalarms red lewens. Laat een installeer en maak seker jou kinders weet watter geluid dit maak.
  • Moenie kinders alleen in ’n vertrek los waar daar ’n brandgevaar is nie.
  • Sit ’n kinderbestande skerm voor ’n oop vuur of verwarmer.
  • Moet kinders nooit alleen in die kombuis los wanneer jy kook nie. Moet hulle ook nooit naby die stoof laat speel nie.
  • Maak seker elektriese toestelle is afgesit wanneer dit nie in gebruik is nie.
  • Hou vuurhoutjies, aanstekers en ander ontvlambare stowwe in ’n veilige plek buite kinders se bereik, en gebruik net aanstekers met kinderbestande eienskappe.
  • Oefen jou ontruimingsplan verskeie kere per jaar met jou kinders. Oefen ook hoe om te stop, val en rol, en hoe om laag te kruip.
  • Belê in vlamlose kerse. Dit het ’n gloeilamp pleks van ’n vlam; dit is dus veiliger as jou kind dit per ongeluk omstamp.

- Janine Nel

Bronne: safekids.org, parent24.com