Kaapstadse kliniese sielkundige Sharon Horwitz verduidelik: “Wanneer ’n ma uitgeput en ooreis is, het sy emosioneel gesproke niks om haar gesin te bied nie, dan ly almal daaronder. As ma dus leer om beter na haarself te kyk, sal sy ook beter na haar gesin kyk.”

Beverley Marcus, ’n kliniese sielkundige van Johannesburg, stem saam: “’n Ruskans is vir almal belangrik. Elke ma het tyd nodig om haar energie weer op te bou. Ma’s wat hulself dit ontneem, kan baie wrewelrig word en selfs hul woede op hul kinders uithaal.

“’n Ma wat gedurig skree, of wat oorweldig of wrokkig voel, gaan haar kind emosioneel onveilig laat voel. Die tyd wat jy neem om ’n ruskans te neem, kan jou in staat stel om jou batterye te herlaai en jou kind se emosionele behoeftes bevredigend te vervul.

“Dit is belangrik om te onthou dat jy ’n ma is, maar ook ’n vrou, moontlik ’n eggenoot, vriendin, dogter en individu in eie reg. Elke ma moet rustyd vir haarself inruim,” voeg sy by.

Laat staan dus gerus die skuldgevoel en volg hierdi wenke om tyd vir jouself in te ruim:

Kry jou prioriteite reg

Die eerste stap is om tyd in jou dagboek in te ruim. Maak ’n lys van jou dagtake en beraam hoeveel tyd elkeen vat. Gee aandag aan die belangrikstes en fokus om hulle voltooi te kry. Delegeer die res aan jou gesin of verwyder dit van jou doenlysie. Die dagtake wat ’n familie aan die gang hou is onvermydelik, maar tyd vir jouself moet beslis ook op jou agenda wees.

Onthou dat tyd vir jouself nie noodwendig net vir ’n blaaskans gebruik hoef te word nie. Oorweeg dit om iets net vir jouself te doen bloot omdat dit interessant of pret is. Jy kan dalk kunsklasse of swemlesse opneem of selfs nog ’n taal aanleer. Die lewe is te kort om jouself in te perk!

Leer delegeer en moenie bang wees om vir hulp te vra nie

Vra byvoorbeeld jou maat om twee maal per week te kook sodat jy ’n aandklas kan bywoon. Of hy kan die inkopies gaan doen en die kinders saamneem terwyl jy gaan gim, koffie saam met ’n vriendin gaan drink of sommer net by die huis ontspan.

Laat jou ouers ook toe om die hele dag saam met hul kleinkinders deur te bring as hulle wil – jy hoef nie altyd by te wees. En gebruik dan daardie tyd om jou emosionele battery te herlaai.

Kwaliteit nie kwantiteit

Jy hoef nie met elke sportoefening of wedstryd waaraan jou kinders deelneem langs die veld rond te hang of in die motor te wag nie. Maak seker hulle weet dat wanneer jy daar is, jy hulle heelhartig ondersteun. Maar gebruik soms die tyd wat hulle aan hul eie aktiwiteite afstaan om ook iets vir jouself te doen.

Kry ander ma’s aan boord

Reël ’n staande afspraak met ander ma’s. Hou byvoorbeeld ’n weeklikse boekklub by iemand se huis of besoek een keer ’n maand ’n nuwe koffiewinkel. En vat gerus die kinders saam. As almal hul hulbronne saamvoeg kan julle ’n kinderoppasser kry om vir ’n uur of twee met die kinders te speel terwyl julle rustig gesels oor iets anders as kindersake.

Stig ’n saamryklub

Jy en ander ma’s kan beurte maak om jul kinders rond te ry. So kry elkeen ’n oop plekkie in hul dagboek!

Kies kindervriendelik

Net soos jy soms ’n blaaskans nodig het, wil jou kinders ook nie noodwendig net heeltyd in jou geselskap rondhang nie. Baie restaurante en gims het kinderareas. Snuffel sulke plekke uit en voorkom dat jou kinders verveeld raak en julle almal op mekaar se senuwees werk. Geniet dit om mekaar ’n bietjie ruimte te gee en jy sal dalk verbaas wees hoeveel meer julle dan julle uitstappies geniet.

- Petro-Anne Vlok

Ekstra bronne: parenting.com, wikihow.com