Johan Marais, woordvoerder van Wildernis-soek-en-redding, het gesê die groep is 18:00 Sondagaand van die voorval naby die Myburgh-ravyn in die Oudekraal-natuurreservaat by Houtbaai in kennis gestel. Teen 21:00 het hulle die meisie en haar drie maats opgespoor.

Sy het ’n gebreekte enkel gehad. Omdat dit nie ’n lewensgevaarlike besering was nie, het die reddingspan besluit om die nag saam met haar in die berg deur te bring. Van haar vriende het ook gekies om saam agter te bly.

Die kwik het in ’n stadium by 4 °C gedraai.

Ongeveer 03:00 Maandagoggend is daar begin om van haar vriende van die berg af te neem. Kort voor halfnege die oggend is ’n Skymed-helikopter ingespan om haar en ’n mediese beampte te ontruim waarna sy vanaf Oranjekloof na die hospitaal geneem is.

Die res van die span sou ook per helikopter van die berg afgehaal word nadat hulle die vrag aan boord ligter gemaak het.

Bron: News24