Nou is hierdie berugte sluipskutter finaal uit die tronk vrygelaat.

John Hinckley was 25 jaar oud toe hy op pres. Ronald Reagan en drie ander skiet. Die voorval het plaasgevind 69 dae nadat Reagan as president aangewys is.

Dit was een van die geleenthede waartydens hy nie ’n koeëlvaste baadjie gedra het nie omdat die afstand van die hotel en sy ampsmotor net sowat 10 m was, maar dit het Hinckley meer as genoeg kans gegee om daardie skote af te vuur.

Waarskuwing: Video mag sensitiewe kykers ontstel.

James Brady, die Withuis se perssekretaris, is eerste getref. Hy het in 2014 beswyk as gevolg van die beserings wat hy daardie dag opgedoen het.

Die tweede skoot het die polisieman Thomas Delahanty, van die distrik van Columbia, in die nek getref.

Die derde skoot het die president gemis. Jerry Parr, die spesiale agent wat in beheer van sake was, het Reagan in die motor geboender, en die geheimediens-agent Timothy McCarthy is in sy onderlyf gewond toe hy hom oor die president werp om dié te beskerm.

Die vyfde skoot het die koeëlvaste vensters van die ampsmotor getref, maar die sesde koeël het van die kant van die motor weggeskram en die president getref. Reagan is net onder sy linkerarm in die bors gewond. Sy long is deurdring en hy het inwendig kwaai gebloei. Danksy goeie mediese sorg kon hy spoedig genoeg herstel om terug in die tuig te klim. Jerry se optrede het in alle waarskynlikheid verhoed dat Reagan in die kop getref is.

Regslui en die publiek was geskok toe die hof bevind Hinckley is weens geestesongesteldheid onskuldig. Sy obsessie met die aktrise Jody Foster het hom glo gedryf – hy wou haar met die sluipmoord op die president probeer beïndruk. Hy het hierdie ongesonde obsessie ontwikkel nadat hy haar in die fliek Taxi Driver gesien het.

Hinckley het dit glo 15 keer gekyk en sterk aanklank gevind by Robert de Niro se karakter, Travis Bickle. In die fliek probeer Travis ’n 12-jarige prostituut beskerm. Jody het die rol van die prostituut vertolk.

Wat Jody Foster destyds oor Hinckley se briewe aan haar te sê gehad het.

Hinckley was egter ’n bedrewe bekruiper. Nie net het Jody onder sy onwelkome briewe, notas en oproepe deurgeloop nie, hy het pres. Jimmy Carter ook in sy visier gehad. In 1980 is Hinckley by die Nashville Internasionale Lughawe in hegtenis geneem vir die onwettige besit van drie vuurwapens – nadat hy tot binne ’n meter van Carter gekom het.

Die vuurwapen

Dit was ’n Röhm RG-14 .22 LR-bloustaalrewolwer afkomstig van Rocky’s Pawn Shop, ’n pandjieswinkel in Dallas. Die Devastator-patrone is ontwerp om te ontplof wanneer dit met die teiken kontak maak. Dokters het koeëlvaste baadjies gedra toe hulle die koeël uit Thomas se nek moes verwyder.

Die video toon ’n soortgelyke rewolwer.

Hinckley en vryheid

1. Terwyl Hinckley in die St. Elizabeth-hospitaal was, het hy minstens drie keer sy lewe probeer neem.

2. Van 11 April 2001 af is sy ouers toegelaat om hom sonder toesighouding te besoek.

3. Van Junie 2007 af kon hy ses nagte per week by sy ouers deur bring.

4. Regter Friedman het Hinckley sedert 2014 toegelaat om vir 17 dae per keer te bly in Williamsburg, waar hy vrywilligerswerk verrig het: landskapdienste by ’n kerk, biblioteekwerk en ook in die kafeteria van ’n psigiatriese hospitaal.

5. Hy het ook rolbal begin speel en lesings en buitemuurse konserte bygewoon.

6. Op 22 April 2015 doen Hinckley aansoek vir onvoorwaardelike vrylating.

7. Op 27 Julie 2016 word hy vrygelaat.

8. Nuwe beperkings bepaal Hinckley moet minstens drie dae per week vrywilligerswerk verrig. Hy moet minstens een jaar by sy bejaarde ma inwoon en deurentyd ’n selfoon by hom hê.

9. Hy mag ook geen kontak met die Reagan-familie of Jody Foster hê nie.

Kommentaar oor Hinckley se vrylating Michael Reagan, seun van Ronald Reagan, het vergifnis gevra. “My pa het meer gedoen as om die Here se gebed op te sê. Hy het dit geleef deur John Hinkley jr. te vergeef. Miskien moet ons dieselfde doen.”

Patti Davis, Reagan se dogter, voel hy moet opgesluit bly, al het sy hom vergewe. Sy sê sy sal altyd geteister word deur die herinneringe van ’n reënerige Maart-namiddag toe haar pa byna dood is. “As enigiets Hinckley teister, dink ek dis dat hy nie geslaag het in sy missie om die president te vermoor nie.” Kenneth M. Duberstein, wat kortstondig Reagan se personeelhoof was, het sy verstomming uitgespreek: “Die gevolge daarvan om die leier van die vrye wêreld te probeer vermoor moet lewenslange gevangenisstraf wees.”

Dan Gross van onder meer die Sentrum vir die Voorkoming van Vuurwapengeweld, sê “alle Amerikaners moet woedend wees dat dit so maklik is vir ’n potensiële moordenaar om vandag nog net so maklik ’n vuurwapen in die hande te kry as 35 jaar gelede”.
Die Reagan-stigting het aangedui hulle glo steeds Hinckley is ’n gevaar vir ander en hulle het hulle sterk teen sy vrylating uitgespreek.

Bronne: edition.cnn.com, nytimes.com, wikipedia.org, nytimes.com, abcnews.com