Die 82-jarige kultusleier, wie se misdade in die laat 1960's die wêreld geskok het, is weens ’n onbekende siekte gehospitaliseer, maar volgens bronne gaan dit glad nie goed met hom nie.

Manson is al sedert 1971 agter tralies nadat hy en sy volgelinge betrokke was by ’n vlaag moorde twee jaar vantevore. Hy dien tans nege lewenslange vonnisse uit vir sy betrokkenheid daarby.

Die berugte Manson en drie van sy volgelinge, Susan Atkins, Patricia Krenwinkel en Leslie van Houten, het vyf mense op ’n partytjie aan huis van die begaafde Frans-Poolse regisseur Roman Polanksi (van onder meer The Pianist-faam) vermoor. ’n Vierde volgeling, Tex Watson, is later ook by die moorde betrek.

Roman se destydse vrou, Sharon Tate, was agt maande swanger toe die bende haar 16 keer met ’n mes steek en doodmaak, ten spyte daarvan dat sy om die lewe van haar ongebore baba gepleit het. Jay Sebring, ’n haarstilis, Abigail Folger, ’n ryk erfgenaam, Wojciech Frykowski, ’n skrywer en Steven Parent (ook gespel Stephen), is almal op 9 Augustus 1969 op dieselfde perseel afgemaai.

Steven was bloot op die verkeerde plek op die verkeerde tyd. Hy het gekuier by sy vriend William Garretson, opsigter van Roman se woning. Nadat hy ’n bier saam met William gedrink het, het hy die perseel verlaat, maar is meermale deur sy oop motorvenster geskiet terwyl hy gewag het dat die veiligheidshek oopgaan.

Nog was dit nie die einde van die viertal se moordlus nie. Die volgende aand het die groep Leno LaBlanca, ’n sakeman, en sy vrou, Rosemary, koelbloedig in hul huis in ’n "gegoede" woonbuurt in Los Angeles vermoor. Hoewel Manson dié moorde versoek het, was hy nie self daarby betrokke nie.

Tussen die sewe moorde het Manson en sy volgelinge die slagoffers altesaam 169 messteke toegedien en is sewe skote met hul .22-geweer geskiet. Die woord "pig" was in bloed op die mure en deure van die wonings geskryf sowel as die frase "Helter Skelter".

Die staat het aangevoer Manson wou met dié bloederige woorde ’n rasseoorlog ontketen deur dit te laat lyk asof die moorde deur die Black Pathers, ’n revolusionêre swartweerstandsbeweging in Amerika, gepleeg is.

Manson is aanvanklik die doodstraf opgelê, maar dis kort daarna tot lewenslange tronkstraf verander met die afskaffing van die doodstraf in Kalifornië in 1972.

In 2014 het Manson toestemming gekry om met die toe 26-jarige brunet Afron Elaine Burton te trou. Sy het gereeld by hom in die tronk kom kuier, maar hulle het nooit die seremonie voltrek nie. Dit het later aan die lig gekom dat Afron net met Manson wou trou sodat sy ná sy dood sy lyk kon uitstal.

Manson is met die jare reeds 12 keer parool geweier en kom eers weer in 2027 daarvoor in aanmerking.

Hoewel sy presiese toestand onbekend is, het ’n bron in die Kaliforniese departement van korrektiewe dienste en rehabilitasie bevestig hy leef nog. Hy word behandel in ’n hospitaal in Bakersfield.

Bronne: CNN; Wikipedia; Daily Mail