crime

’n Nadoodse ondersoek het getuig dat Sandra Haupt, ’n inwoner van ’n aftreeoord in Port Elizabeth, nie dood is weens ’n beroerte nie, maar dat sy doodgeslaan is. Haar wangbene en ribbes is onder meer gebreek voor sy aan haar wonde beswyk het.

Sandra se bebloede lyf is Dinsdagmiddag deur haar man Paul (75) in hul huis in die oord gekry. Sy was nog lewend. Paul het sy vrou dadelik hospitaal toe geneem, maar sy is kort daarna oorlede.

Paul en die polisie het eers geglo Sandra het nog ’n beroerte gekry nadat sy drie weke terug een gehad het.

Die polisie het aanvanklik ’n geregtelike doodsondersoek geopen aangesien geen misdaad vermoed was en daar geen teken van inbraak in hul huis was nie.

Maar die nadoodse ondersoek vertel nou ’n heeltemal ander storie. Polisie glo nou dat Sandra tydens ’n rooftog met ’n piksteel aangeval is.

Paul het ure later agtergekom ’n selfoon en skootrekenaar is vermis.

Ao. Alwin Labans het gesê nadat die geregtelike doodsondersoek die nuwe inligting aan die lig gebring het, is die ondersoekspan terug na die oord om die area te fynkam.

Hulle het ’n bebloede handvatsel van ’n pik gevind.

Die handvatsel is na ’n laboratorium gestuur vir toetse om te probeer vasstel wie Sandra se moordenaar is.

Bykomende bron: Heraldlive.co.za