Jill, wat haarself as 'n presidentskandidaat, aktivis, mediese dokter en omgewingsgesondheidsadvokaat bestempel, het Vrydagaand die aankondiging op Twitter gedoen.

Vir Donald Trump was dit tydens die Amerikaanse verkiesing belangrik om goed te vaar in Winsconsin, Florida, Michigan, Noord-Carolina en Ohio.

Hy het twee weke gelede tydens daardie verkiesing 'n naelskraapse oorwinning in Winsconsin behaal. Sou die Demokratiese Party met Hillary Clinton wel na die oortellery as die wenner uit die stryd tree, sal dit nog steeds nie voldoende wees om Donald te onttroon nie. Dit is slegs tien verkiesingstemme in die verkiesingskollege werd.

Jill is egter ook vasbeslote om stemme oor te laat tel in Michigan en Pennsilvanië. Sou die oortellery tot oorwinnings vir die Demokrate lei met Michigan se 16 verkiesingstemme en Pennsilvanië se 20 kan die skaal beslis....

Alhoewel die Groen Party net 'n fraksie meer as 1% van die nasionale stemme verwerf het, het Jill dit duidelik gemaak dat haar versoek nie daaroor gaan om Donald se oorwinning te ondermyn nie. Sy sê die rede waarom sy dit doen is om die integriteit van die Amerikaanse verkiesingstelsel te verifieer. Sy sê kundiges beskou die verkiesingstelsel as kwesbaar. Hulle het glo ook verwys na "onverklaarbare hoë getalle waar daar aansienlik minder stemme uitgebring is" asook die "verskille tussen die voor-verkiesingsmeningspeilings en die amptelike resultate." "Die aansienlike toename (waar minder mense gestem het) kan dui op 'n kwesbare elektroniese kiesersdatabasis," word in Jill se aansoek van 64 bladsye gesê. Sy het aan CNN gesê dat die elektroniese databasis "kuberkrakery, misdadigheid en lollery" uitnooi.

Die oortellery opsigself gaan 'n duur episode wees. Miljoene dollars gaan nodig wees om die stemme in al drie deelstate oor te tel. Dit beteken nagenoeg 2 miljoen stembriewe sal met die hand nagegaan moet word om die uitslag te bepaal. Jill se webwerf toon aan dat die helfte van die $7 miljoen, oftewel bykans R99 miljoen, reeds daarvoor ingewin is. Dis reeds voldoende om stemme in Winsconsin en Pennsilvanië oor te tel.
Stemreg-regsmanne John Bonifaz en J Alex Halderman het die waarskynlikheid van kuberkrakery rondom die stemresultate as onwaar afgemaak, ten spyte van gerugte van Russiese inmenging in die aanloop tot die verkiesing. Die spertyd vir die oortellery vir Pennsilvanië is Maandag en Michigan Woensdag. Amerikaanse amptenare sê daar is geen bewyse van verkiesinsgsknoeiery in die drie state waar Donald naelskraapse oorwinnings oor die Demokrate behaal het nie.

Daar is nog niks uit die Trump-kamp gehoor rondom die oortellery van stemme nie.

Dan Pfeiffer, voormalige politieke adviseur vir Barack Obama het sy spyt uitgespreek dat Jill eers tot na die verkiesing gewag het voor sy haar besorgdheid oor 'n paar duisend stemme vir Donald uitgespreek het.

Hy bestempel dit as tydmors en dat die fondse wat Jill hiervoor gaan gebruik, beter aangewend kon word in kleiner, plaaslike verkiesings vir die Demokrate.

Wat is verkiesingstemme?

Die Verkiesingskollege bestaan uit 538 verkosenes. 'n Meerderheid van 270 verkiesingstemme is nodig om die president te kies. Elke deelstaat in Amerika het 'n aangewese hoeveelheid verkosenes wat gelykstaande is aan die aantal lede in die kongres-afvaardiging: een vir elke lid in die huis van verteenwoordigers en twee vir senators.

Bronne: bbc.com, reuters.com, theguardian.com, cnn.com, archives.gov/federal-register