Beroepswedders betaal ses-syfer-bedrae aan wedders uit ná die geboorte van Brittanje se koninklike baba.

Die beroepsweddersmaatskappy William Hill het verklap dat ’n menigte mense nie gou genoeg kon wed op die naam George ná aangekondig is dat die koninklike baba ’n seuntjie is nie. Prins William en die hertogin Catherine se seun, prins George Alexander Louis van Cambridge, is Maandag (22 Julie) gebore.

Gelukkig vir die maatskappy het die meeste van die wedders danksy die misvatting dat die egpaar ’n dogtertjie sou kry, in die maande voor die geboorte op ’n toekomstige koningin gewed.

William Hill se woordvoerder Joey Crilly het ná die groot bekendmaking van die naam op 24 Julie gesê: “Ja, George was in die afgelope 24 tot 48 uur ongelooflik gewild onder ons wedders, maar die swangerskap-weddenskappe het baie langer geduur en tot Maandag was die meeste weddenskappe op ’n meisietjie.

“Ons betaal ’n ses-syfer-bedrag uit aan wenners, maar die koninklike baba-weddenskappe was so gewild dat ons genoeg gemaak het vir ’n bottel sjampanje om vanaand ’n heildronk op die baba in te stel.’’

George het as die 2-1-gunsteling geëindig, ’n kortkop voor James en Louis. William Hill het 3 400 weddenskappe op die naam George ontvang. Onder hulle het 25 drie-syfer-bedrae beloop en die grootste weddenskap was R7 500, wat Dinsdag geplaas is.

Altesaam 45 000 weddenskappe is op die baba se naam geplaas.