Kaapstad – Die Springbokke is derde op die beroepswedders se lys van gunstelinge om vanjaar se Rugbywêreldbekertoernooi te wen.

Dis geen verrassing dat Sportsbet.co.za die verdedigende kampioen, Nieu-Seeland, as gunstelinge het met 6/5 om die vertoongeleentheid te wen nie.

Die gasheer, Engeland, is tweede op die lys met 5/1, terwyl die tweemalige kampioen Suid-Afrika derde is met 11/2.

Australië en Ierland (albei 9/1) is volgende op die lys, terwyl Frankryk en Wallis (albei 18/1) as buiteperde beskou word.

Die Springbokke is in Groep B, saam met Japan, Skotland, Samoa en Amerika.

As die Bokke in hul groep wen, sal hulle in die kwarteindstryd kragte meet teen die naaswenner van Groep A– moontlik Australië, Engeland of Wallis.

As hulle ongedeerd daarvan afkom, dreig ’n moontlike halfeindstryd teen hul ou vyande, die All Blacks.

Die Bokke open hul veldtog op 19 September in Brighton teen Japan. Hul tweede Groep B-wedstryd is op 26 September teen Samoa in Birmingham. Daarna volg toetse teen Skotland in Newcastle op 3 Oktober en Amerika in Londen op 7 Oktober.

Bron: Sport24