’n Ondersoek van Eyewitness News (EWN) het onthul Oscar Pistorius het op die vooraand van Valentynsdag met sy eksmeisie gepraat, minute voor hy by sy huis aangekom het waar sy meisie, Reeva Steenkamp, op hom gewag het.

Hy het ’n gesprek van nege minute gehad met Jenna Edkins, enkele ure voor hy Reeva by sy huis in die Silver Woods-landgoed doodgeskiet het.

Maar volgens EWN het die polisie nie hierdie inligting gehad nie.

Hierdie verwikkeling word genoem in Behind the Door, ’n nuwe boek oor die verhoor, wat die EWN-verslaggewers Barry Bateman en Mandy Wiener geskryf het.

Hulle het die nommer aan Jenna verbind, maar dit blyk die polisie het nooit hierdie bewyse ontdek nie en sy is nooit ondervra nie.

Intussen het Barry getwiet dat Oscar se oproepgeskiedenis en WhatsApp-rekords uitgewis is, insluitend verskeie boodskappe wat ná die skietvoorval ontvang is.

Woensdagaand het Oscar se familie en regspan ’n persverklaring uitgereik in ’n poging om ’n hangende nuusberig te voorkom.

“Ons is nie seker van die bewerings wat gemaak word of die bron van sulke bewerings nie, maar ons is onbewus van enige uitwissings wat Oscar geraak het of met sy opdrag gedoen is wat relevant vir die verhoor is of wat ’n uitwerking op die verhoor kon hê,” het hulle gesê.

Oscar is verlede maand skuldig bevind aan strafbare manslag weens Reeva se skietdood op Valentynsdag verlede jaar en sal op 13 Oktober gevonnis word.

LEES MEER HIER