Nicolette du Rand (26), die sanger Zirk Bergh se vierde slagoffer van sy moordtog Saterdag, het Maandagaand gesterf berig Beeld.

Nicolette is Bergh se gewese vrou en sy was sedert die skietery Saterdag in 'n bedenklike toestand in die Garden City-kliniek in Johannesburg. Volgens Beeld is sy twee keer geskiet, een keer in die kop.

Die gesinstragedie het hom Saterdagoggend in Potchefstroom afgespeel toe Bergh hul dogter daar moes gaan haal om die dag by hom te kuier. Hy het Nicolette met 'n handwapen ingewag en haar ten aanskoue van hul dogter geskiet - eers in die rug, en toe sy val, nog 'n keer in die kop.

Bergh het ook Nicolette se tweede man, dr. Charl du Rand, in die kop geskiet en ook vir Deon Kondos, ’n maatskaplike werker.

Bergh en Kondos is op die toneel dood.

Bron: Beeld