Bederf jou pa hierdie Sondag met ’n feesmaal. Ons voorstelle hier onder is smaaklik, maar eenvoudig genoeg dat kinders dit self kan maak. Vra net vir Ma om hand by te sit met skerp messe en warm plate.

Voorgereg: Taai hoendervlerkies op ‘n stokkie

dinsdag63

6-8 hoendervlerkies

sout en vars gemaalde peper

6-8 sosatiestokkies

MARINADE

125 ml (½ k) tamatiesous

2 knoffelhuisies, fyn gekap

1 klein rooi brandrissie, sade verwyder en gekap

30 ml (2 e) sagte bruinsuiker

10 ml (2 t) suurlemoensap

15 ml (1 e) worcestersous

15 ml (1 e) olyfolie

Voorverhit die oond tot 200 °C.

Ryg een vlerkie op elke sosatiestokkie; die vlerkie moet versprei wees oor die hele stokkie. Geur met sout en peper.

Meng al die bestanddele vir die marinade.

Plaas die sosaties in ’n bak en gooi die marinade oor; maak seker dat elke vlerkie heeltemal met marinade bedek is. Marineer vir minstens 30 minute in die yskas.

Plaas die gemarineerde vlerkies op ’n bakplaat en bak 15 minute of tot gaar.

Sit voor saam met vars blare, fetakaas en tamaties.

Hoofgereg: Romerige biltongpasta

biltongpasta-main

15 ml (1 e) olyfolie

250 g knopiesampioene

sout en vars gemaalde swartpeper

500 ml (2 k) room

200 g nat biltong, gekerf

15 ml (1 e) vars pietersielie, gesnipper

250 g linguini-pasta

Verhit die olie in ’n pan en braai die sampioene ’n paar minute tot geurig. Geur met sout en peper.

Sit die room by en bring tot kookpunt. Verlaag die hitte en laat prut tot die sous effens verdik.

Sit die biltong en pietersielie by en roer ’n paar minute.

Kook die pasta in soutwater tot al dente, dreineer en meng dit by die biltongmengsel in.

Nagereg: Mikrogolf-sjokolademousse

sjokmouse

Genoeg vir 8-10 mense

Bereiding: 15 minute

Verkoeltyd: oornag

20 wit malvalekkers, kleiner geknip

200 g baksjokolade, in blokkies gebreek

1 blik (380 g) ingedampte melk, verkoel

ekstra malvalekkers, gesmelt

Plaas die malvalekkers, sjokolade en ’n bietjie van die ingedampte melk in ’n glasbak en mikrogolf tot gesmelt. Roer elke minuut of wat.

Klits die oorblywende ingedampte melk styf en vou by die mengsel in.

Skep die mengsel in klein bakkies of een groot bak en verkoel tot gestol.

Smelt die malvalekkers sowat 40 sekondes per keer in die mikrogolfoond. Roer gereeld en skep dit op elkeen

van die koppies.

WENK: Dis belangrik om smeltende malvalekkers gereeld te roer sodat dit ’n gladde mengsel vorm. Om dit nog gladder te kry, kan jy ook ’n paar lepels water, botter of olie by die malvalekkers voeg terwyl dit smelt.