’n Roetine by die huis sal jou kind help om veilig te voel, sê Sannie van Niekerk, ’n Pretoriase preprimêre onderwyseres en lid van die Beroepsvereniging vir Professionele Organiseerders in Afrika.

Hoewel dit onnodig is om militaristies te wees oor roetine, sal dit later wel help wanneer hulle moet begin voorberei vir die eksamen. Hier is haar raad:

Ouers moet hul kinders van vroeg af leer hoe om dinge te doen. Jy kan nie net van die begin af opdragte gee en verwag jou kind moet dit uitvoer nie. Wys hulle hoe om byvoorbeeld hul tas in te pak of ná skool hul klere op te vou.

Betrek van die begin af jou kind by organisering – vra hulle byvoorbeeld watter tas hulle graag sal wil hê.

Maak seker alles is die vorige aand al reg vir skool: Die uniform is opgehang in die kas, tas is ingepak en kosblik is sover moontlik gereed.

Staan betyds op. Bemagtig jou kinders deur vir hulle hul eie wekker langs hul bed te sit. So voel hulle dit is ook hul verantwoordelikheid en leer hulle stadigaan om dit self te doen.

Jou kind se roetine ná skool hang baie af van waartoe jy as ouer in staat is. As jy smiddae by die huis is, maak seker ’n roetine word vasgestel. As jou kind by die naskoolsentrum is, gesels met die toesighouer om uit te vind wat die roetine daar behels. Is daar byvoorbeeld vasgestelde tye vir huiswerk en speel?

Dit is belangrik dat kinders hul uniform uittrek sodra hulle by die huis of naskoolsentrum aankom. Dit leer hulle daar is ’n verskil tussen skooltyd en speeltyd.

Maak seker daar is genoeg tyd om te ontspan voor jou kind met huiswerk begin. Hulle moet byvoorbeeld weet drieuur is huiswerktyd.

Maak tyd om met kinders te gesels oor hul dag. Deel ook met hulle wat in jou dag gebeur het sodat dit nie voel of hulle deur die polisie ondervra word nie.

Rig vir jou kind ’n huiswerkhoekie by die huis in. Dit sal help met die onderskeid tussen ’n werk- en ontspanplek.

Dis nooit te laat om kinders in ’n roetine te help kom nie. Dit gaan dalk ’n bietjie harder werk kos as hulle reeds in die hoërskool is, maar as jy dit met empatie benader en jou kind betrek, kan julle steeds voordeel daaruit trek.