Benedict Cumberbatch en Emma Watson is wêreldwyd as die sexyste rolprentsterre gekies.

In die wêreldwye Empire Online-stemming is die Sherlock-akteur bo-aan die lysie van die 50 mans wat op die oomblik die sexyste in die wêreld is. Hiermee klop hy gewilde akteurs soos die Avengers-ster Tom Hiddleston en Twilight-gunsteling Robert Pattinson.

Daar is heelwat Britse mans onder die eerste 50. Die James Bond-ster Daniel Craig het die 24ste plek behaal en die sexy Skot James McAvoy is 16de. Hy stof Tom Hardy, wat in die 17de plek is, net-net uit.

Die Amerikaanse akteur Ryan Gosling het vierde gekom, en Bradley Cooper is tiende.

Die Harry Potter-aktrise Emma Watson is gekies as die sexyste vroulike ster. Scarlett Johansson is tweede en Jennifer Lawrence van The Hunger Games derde.

James Dyer, die redakteur van Empire Online, het gesê: “Dis ’n goeie uitslag vir Britse sterre, maar duidelik is dit minder belangrik om baie aan-en-af-bewonderaars te hê, en baie beter om toegewydes te hê. Die Cumberbabes, Hiddlestoners, Twi-hards en Cavilliers het almal van hulle laat hoor!”