Dit wil voorkom asof hy geteiken is toe hy met 'n Audi R8 naby ’n winkelsentrum gery het.

Kapt. Mavela Masondo het bevestig dat ’n man tydens ’n verbyry-skietvoorval in Melrose geskiet en beseer is. Hy het daarin geslaag om self tot by Sandton te ry.

“Sy identiteit kan nie in hierdie stadium bevestig word nie. Die polisie het ’n uitgebreide soektog van stapel gestuur om die verdagtes op te spoor. Die motief vir die voorval is nog nie bekend nie,” het hy gesê.

Luidens berigte is die man in sy bolyf geskiet. Konst. David Mothapo. Sandton-polisie se woordvoerder, het aan die Sandton Chronicle gesê die man het besef hy is die teiken toe hy vuurwapenskote hoor.

Die beseerde het daarin geslaag om tot by die Morningside-kliniek te ry vir mediese hulp. Hy het met sy aankoms by die kliniek beheer oor sy voertuig verloor en teen drie ander motors gebots.

Verskeie bronne het aan News24 gesê dit het wel met die toenemende ondergrondse bedrywighede in die bendewêreld te doen. Veral Kaapstad se nagklub-sekuriteitbedryf gaan gebuk daaronder.

Die sakeman Nafiz Modack is luidens berigte aan die hoof van die nuwe faksie wat nagklubsekuriteit by ’n ouer faksie oorgeneem het.

Bronne: news24.com, sandtonchronicle.co.za,