Ben Stiller is twee jaar gelede geopereer vir die behandeling van “onmiddellik aggressiewe” prostaatkanker.

Die siekte is in 2014 ná ’n bloedtoets en daaropvolgende skanderings by die akteur (50) gediagnoseer. Hy was 48. Die dokters het destyds die ster geopereer en die kanker is suksesvol behandel.

Die ster van The Secret Life of Walter Mitty het Dinsdag tydens ’n gesprek met Howard Stern, programaanbieder van ’n Amerikaanse radiostasie, sy vrese onthul nadat “onmiddellik aggressiewe” kanker by hom gediagnoseer is ná ’n prostaat-spesifieke antigeentoets (PSA) op aandrang van sy dokter.

Lees ook: ‘As dit nie vir die baba was nie, sou ek nooit van die gewasse uitgevind het nie’

“Dit het uit die bloute gekom; ek het nie ’n idee gehad nie,” het hy oor die diagnose gesê.

“Ek het eers nie geweet wat gaan gebeur nie. Ek was bang. Alles in jou lewe kom tot stilstand; jy kan nie ’n rolprent beplan nie, want jy weet nie wat gaan gebeur nie.”

Nadat hy sy aanvanklike vrese oorkom het, het Ben navorsing gedoen oor sy siekte en sy medester Robert de Niro, wat self prostaatkanker oorleef het, gekontak vir raad oor behandelingsmetodes.

“Nadat ek gediagnoseer is, het ek heel eerste die internet ingespan om iets wys te word,” was sy verduideliking. “Ek het gesien Robert de Niro het dit gehad en ek het hom dadelik gebel.”

Lees ook: Kankerlyer vertel roerend: ‘As dit nie vir die baba was nie, sou ek nooit van die gewasse uitgevind het nie’

Die akteur, wat met Christine Taylor (45), sy medester in Zoolander, getroud is, het ook die nuus aan hul dogter, Ella (14), en seun, Quinlin (11), oorgedra.

“Ek het vir hulle gesê ek het iets waaraan ek moet aandag gee,” het hy gesê. “Hulle was nogal koel daaroor.”

Ben, wat saam met sy chirurg aan Howard se radioprogram deelgeneem het, raai ander mans aan om die PSA-toets te ondergaan en volgens hom word hy elke ses maande getoets om seker te maak die kanker keer nie terug nie.