Die ster en regisseur van die fliek Live By Night het Dinsdag in ’n Facebook-inskrywing gesê hy het die jongste behandeling voltooi, en erken sy stryd teen die drankduiwel is iets wat hy “al voorheen gepak het” en waarteen hy “sal voortgaan om te baklei”.

Die 44-jarige Ben en die ma van sy drie kinders, die aktrise Jennifer Garner, is in 2015 uitmekaar ná ’n huwelik van 10 jaar. Ben sê een van die redes dat hy weer teen die drankduiwel baklei het, was om sy gesinslewe te verbeter.

“Ek wil voluit leef en die beste pa wees wat ek kan,” het hy in die sosiale media gedeel. “Ek wil hê my kinders moet weet dit is nie ’n skande om hulp te kry as jy dit nodig het nie, en ek wil ’n bron van krag wees vir enigeen wat hulp benodig, maar te bang is om die eerste tree te gee.

“Ek is gelukkig om die liefde van my familie en vriende te hê, insluitende my mede-ouer Jen, wat my ondersteun en na ons kinders omgesien het terwyl ek dié werk moes doen. Dit was die eerste van vele treë op die pad na ’n positiewe herstel.”

[caption id="attachment_163921" align="alignnone" width="600"]Foto: Cover Media Foto: Cover Media[/caption]

Daar is verlede week berig dat Jen en Ben glo vir eers hul egskeiding opsygeskuif het, en ’n bron het aan People.com gesê die paartjie “gaan weer probeer”.

“Hulle kan altyd weer versoen,” het nog ’n bron aan Us Weekly gesê. “Daar is baie liefde en ondersteuning tussen hulle en hulle het ’n manier uitgepluis om hul familie te laat werk.”

Die twee het nog nie ’n woord gerep oor die gerugte dat hulle weer probeer nie, maar albei is duidelik nog baie lief vir mekaar.

Ben het in Oktober in ’n onderhoud met Extra TV sy vervreemde vrou geloof, gesê hy is “beïndruk” met Jennifer se politieke aktivisme, en bygevoeg: “Sy is ’n wonderlike ma.”

Jennifer het op haar beurt op die Today Show gesê sy en Ben bly “goeie vriende” en dat dit “baie goed gaan” met hulle.

Dit is nie die eerste keer dat Ben hulp vir alkoholmisbruik kry nie – hy het ook in 2001 rehabilitasie ondergaan.

Sy reklameagent, David Pollick, het destyds gesê: “Ben is ’n slim man wat homself ken en besluit het dat daar ’n voller lewe op hom wag sonder alkohol. Hy het gekies om professionele hulp te kry en is toegewyd daaraan om ’n gesonder pad te stap met die steun van sy familie, vriende en aanhangers.”

© Cover Media