Ben Affleck slaap na bewering slegs 'n paar uur per nag.

Die akteur gaan tans deur 'n rowwe tydjie as gevolg van die einde van sy huwelik van tien jaar en intense spekulasie oor sy verneukery met die gesin se kinderoppaster, Christine Ouzounian.

Alhoewel Ben en Jennifer voortgaan om hul drie kinders saam groot te maak, sukkel die akteur, volgens bronne, met die omstandighede.

"Ben blameer homself vir die verbrokkeling en dit gaan sleg met hom. Hy het gewig aangesit en dit kom voor asof hy slegs 'n paar uur per nag slaap,” het 'n ingeligte bron aan die Britse koerant Grazia uitgelap.

"Dit was altyd van groot belang om aan sy kinders die soort gesinslewe te bied wat hy self nie tydens sy grootwordjare gehad het nie, en dit kom voor asof hy verpletter is omdat dinge nie reg uitgewerk het nie. Om die minste te sê, lyk dinge tussen hom en Jen nogal gespanne.”

Ben en Jennifer is verskeie kere saam gesien sedert hulle in Junie aangekondig het dat hulle gaan skei. Die gesin bly in Atlanta terwyl Jennifer haar nuwe rolprent, Miracles from Heaven, verfilm.

Christine is ook by verskeie geleenthede afgeneem. Daarmee saam is daar ook gerugte dat Ben betaal vir haar weelderige verblyf in die Hotel Bel-Air in Beverly Hills. Foto’s het ook opgedoem van Christine waar sy na bewering voor die verbrokkeling van Ben se huwelik op 'n privaat straler na Las Vegas is saam met Ben en sy vriend Tom Brady.

Op Bladsy Ses word berig dat die voormalige kinderoppasser hoop om realiteitstelevisiewerk te kry.

"In LA word gegis dat Christine 'n agent soek en dat sy 'n televisie-ooreenkoms ten opsigte van iets soos The Bachelorette of Dancing with the Stars soek. Sy weet baie goed sy sal heel moontlik nooit weer kinders kan oppas nie – wie in LA gaan haar nou huur om na hul kinders om te sien? Sy beoog om die kalklig te gebruik om 'n loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf op te bou,” het 'n bron aan die webwerf vertel.

© Cover Media