Ben (41) gaan te sien wees in ’n Batman-Superman-megafliek wat in 2015 uitgereik word, kort op die hakke van die onlangse Superman-treffer, Man of Steel.

Christian (39) het die titelrol in Christopher Nolan se Batman-trilogie vertolk.

“Ons het geweet ons het ’n uitsonderlike akteur nodig om een van DC Comics se oudste en gewildste superhelde aan te pak, en Ben Affleck sal dit vir seker kan doen,” het Warner Bros. se voorsitter, Greg Silverman, in ’n verklaring gesê.

Zack Snyder gaan die regisseur wees van dié rolprent, wat nog nie ’n titel het nie. Zack is ook die regisseur van Man of Steel, waarin die Britse akteur Henry Cavill as Superman verskyn.

Henry en Ben gaan die hoofrolle vertolk in die komende megafliek.

“As ’n akteur kan Ben ’n man goed uitbeeld wat ouer en wyser is as Clark Kent (Superman), en wat die littekens dra van ’n geharde misdaadbevegter, maar wat ook die sjarme het wat die wêreld in die biljoenêr Bruce Wayne (Batman) sien,” het Zack gesê.

Man of Steel het net in Amerika ongeveer R3 biljoen verdien en sowat R6,5 biljoen wêreldwyd.

Dit sal nie die eerste keer wees dat Ben die rol van ’n superheld vertolk nie; hy was Matt Murdock, die hoofkarakter, in die 2003-mislukking Daredevil.

Maar as ’n regisseur het Ben vanjaar die hoogste Hollywood-sukses bereik: Sy fliek Argo het in Februarie die Oscar vir beste rolprent gekry.

– Sapa