Die twee het op 13 April vanjaar aansoek gedoen om ’n egskeiding. Ben, wat sedertdien ’n paar opspraakwekkende bekentenisse oor onder meer sy drankprobleem gedoen het, het oënskynlik nie in sak en as gesit nadat sy huwelik van 12 jaar op die rotse beland het nie.

Die 44-jarige, Oscar-bekroonde akteur en regisseur het die tonge behoorlik laat klap toe hy verlede week in Londen met ’n blondine aan sy sy opgemerk word. Die twee het die toneelstuk Ferrymann gaan kyk en het glo vier aande saam deurgebring. Toe volg daar Donderdag weer ’n aandete in New York . . .

Sy is Lindsay Shookus (37), die regisseur van Saturday Night Live (SNL). 

Lindsay het ook al aan Tina Fey se 30 Rock-televisiereeks gewerk. Sy het in 2010 met een van haar SNL-kollegas, Kevin Miller, getrou en hulle het een kind.

Lindsay en Ben ken mekaar glo al jare lank. Ingeligtes beweer Ben is baie gelukkig en “geniet die tyd saam met Lindsay geweldig baie".

BenJen

Ben en Jennifer (45) het drie kinders: Violet (11), Seraphina (8) en Samuel (5).

Hul huweliksbootjie het in 2015 begin sink toe Ben glo te danig was met die gesin se kinderoppasser, Christine Ouzounian. Ben het dit natuurlik ontken maar Christine is steeds die deur gewys.

’n Jaar later het die twee nog geen aanstaltes gemaak om hul egskeiding deur te voer nie. In Maart 2017 word die planne om te skei gekanselleer nadat Jennifer glo daaroor besin het. Bronne na aan die paartjie het destyds beweer dat Jennifer werklikwaar die probleme met Ben wou uitstryk en hom nog ’n kans wou gee.

Maar ’n maand later is die egskeidingsdokumente weer ingedien.

Bronne: people.com, nydailynews.com, usmagazine.com