As jy nie teen Vrydag 22 November jou belastingopgaaf by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ingedien het nie óf dit wel gedoen het, maar die SAID geld skuld, hoef jy jou nie dood te bekommer nie: Daar is nog tyd om ’n strawwe boete vry te spring.

Volgens Le Roux van der Walt, ’n Kaapse belastingkonsultant, is daar eintlik twee spertye: Die eerste, wat reeds Vrydag verby is, is vir alle werknemers wie se werkgewers hul belasting van hul salaris aftrek en dit namens hulle aan die SAID betaal; die tweede, wat eers 31 Januarie 2014 kom, is vir alle mense wat vir hulleself werk en nie ’n werkgewer het, wat namens hulle hul maandelikse belasting vir die SAID kan betaal nie.

“Die SAID is eintlik baie behulpsaam en genadig,” sê Le Roux. “Die ondervinding het geleer hulle begin eintlik eers boetes aan belastingontduikers uitdeel wanneer die tweede spertyd verby is; so as jy Vrydag se spertyd misgeloop het, het jy nog tyd.

“Maar moenie wag nie: Kry jou belastingopgaaf so gou moontlik in sodat dit afgehandel is.”

As jy dit nie doen nie sal jou boete, volgens Le Roux, afhang van hoeveel jy maandeliks verdien; hoe meer jy verdien, hoe groter sal jou boete wees. Hy waarsku ook dat dit ’n maandelikse boete is, wat elke maand sal ophoop solank jy dit nie betaal nie.

“Die SAID sal op e-filing of in ’n e-pos laat weet wat jou boete is,” verduidelik hy.

“Maar as jy wel jou belastingopgaaf voor 22 November ingedien het en die SAID laat weet jy skuld hulle geld, is daar net een kalendermaand om dit te betaal,” voeg hy by.

“As jy dit nie doen nie, sal die uitstaande bedrag rente verdien. Die rente is ’n standaardpersentasie wat deur die regering bepaal is, maar dit is wel minder as by ’n bank.

“Dis eintlik goedkoper om die SAID as ’n bank geld te skuld,” skerts hy.

Vir enige navrae, bel die SAID by 0800 00 7277.

– Christiaan Boonzaier