Die hof het nie bewys dat Oscar Pistorius moord met voorbedagte rade gepleeg het nie, het regter Masipa vandag gesê.

Die bewyse vir moord met voorbedagte rade was “omstandigheidsgetuienis”, het sy gesê.

“Ek verwys hier na direkte bedoeling. Die staat het duidelik nie bo redelike twyfel bewys dat die beskuldigde skuldig is aan moord met voorbedagte rade nie.”

Sy het Oscar ook as as ’n “baie swak getuie” beskryf en gesê hy het tydens kruisondervraging sy humeur verloor.

Dit het geblyk hy is meer besorg oor die moontlike uitwerking van sy antwoorde as die antwoord self, het sy gesê.

Sy het ook genoem dat hy sy regspan beskuldig het wanneer hy tydens kruisverhoor onder druk was.

“Die oorledene is onder baie vreemde omstandighede dood.

“Daar is vreemde aspekte, soos waarom hy haar nie gevra het of sy iets gehoor het nie. En waarom hy haar nie gesoek het toe hy met haar praat en sy nie antwoord nie,” het sy gesê.

“Waarom het hy vier skote afgevuur en nie net een nie?” het sy gevra. Hierdie vrae sal ongelukkig ’n geskilpunt bly, het sy uitgewys.

Wat nie onduidelik is nie, het sy uitgebrei, is dat Oscar hom bewapen het. Hy was nie eerlik oor sy bedoelings daardie oggend nie. Die beskuldigde was duidelik nie eerlik met die hof toe hy sê hy het nie die bedoeling gehad om te skiet nie, aangesien hy ’n wapen in sy hand gehad het en gereed was om te skiet.

“Maar net omdat iemand oneerlike bewyse gee, beteken nie hulle is skuldig nie.” - Mieke Vlok