Die Monaco-koningshuis het ‘n amptelike verklaring oor prinses Charlene, die Suid-Afrikaanse vrou van prins Albert, se swangerskap uitgereik.

“Die prins en prinses van Monaco kondig graag aan hulle verwag einde vanjaar ’n tweeling,” het die paleis in ’n verklaring gesê, wat die tydskrif Hello! se berig vroeër vandeesweek bevestig.

Charlene (36) is in Zimbabwe gebore en is ’n Olimpiese swemmer wat in 2011 met die 56-jarige Albert getroud is.

Die tweeling, wat Albert se suster Caroline se plek as die troonopvolger inneem, sal Charlene se eerste kinders wees.

Albert, wat sy pa, prins Rainier, in 2005 opgevolg het, het reeds twee kinders uit sy dae as een van die wêreld se hubaarste vrygeselle.

Sy Amerikaans gebore dogter, Jazmin, van ’n kortstondige verhouding met die kelnerin Tamara Rotolo, het onlangs in Amerika haar tersiêre opleiding voltooi.

Die prins het jare lank vaderskap ontken, tot DNS-toetse in Jazmin se tienerjare die teendeel bewys het.

Die prins het ook ’n jonger seun, Alexandre Coste, van ’n affair met Nicole Coste, ’n gewese Air France-lugwaardin.

Ingevolge Monaco se oorerwingswette het geeneen van die buite-egtelike kinders die reg op koninklike titels of status as Albert se erfgename nie.

Maar hulle het wel aanspraak op ’n deel van sy groot persoonlike fortuin. Die tydskrif Forbes skat dit op meer as R11 biljoen.

Albert en Charlene se verhouding was na bewering al meermale op die randjie van ’n ineenstorting sedert gerugte die ronde gedoen het dat sy kort voor haar troue uit Monaco probeer vlug het nadat sy gehoor het Albert het dalk ’n derde liefdeskind verwek.

Daar is wyd berig dat die paartjie ten minste ’n deel van hul wittebrood in aparte hotelle deurgebring het. Foto’s van die prinses wat sedertdien ongelukkig lyk, het gerugte aangevuur dat sy depressief is.