Elvis Blue en sy gesin se welverdiende vakansie in Ballito, KwaZulu-Natal, is amper kortgeknip toe drie vermeende rowers in die vroeë oggendure glo toegang tot hul vakansiehuis probeer verkry het.

Ná 27 agtereenvolgende optredes in ’n maand het Elvis saam met sy vrou, Chirése, en kinders, Lil (6) en Jua (3), besluit dit is tyd vir ’n vinnige wegbreek KwaZulu-Natal toe. Volgens Elvis se agent, Kona Brown, het Elvis Dinsdagoggend omstreeks 04:00 wakker geskrik van ’n geraas in die onderste verdieping van die vakansiehuis. Hy het gesien hoe ’n man die veiligheidshek van buite probeer oopmaak. “Daar was ook nog twee ander mans wat op die uitkyk was om seker te maak niemand sien hulle nie,” het Kona gesê.

A photo posted by Elvis Blue (@elvisbluemusic) on

Chirése het ook intussen wakker geword van al die lawaai.

“Elvis en Chirése het op die inbrekers begin skree dat hulle moet weggaan. Maar die inbrekers het hulle nie gesteur aan die gille nie.” Elvis het sy selfoon gegryp en die polisie gebel. Hulle was binne sewe minute op die toneel. Die inbrekers het gevlug en die polisie het nog niemand weens die voorval in hegtenis geneem nie. Elvis en sy gesin is ongedeerd, hoewel hulle ’n bietjie ontsenu is ná die voorval, sê Kona. “Dit is nooit lekker as so iets met ’n mens gebeur terwyl jy op vakansie is nie, “ het Elvis telefonies aan Huisgenoot gesê.

A photo posted by Elvis Blue (@elvisbluemusic) on

“Maar ons is dankbaar vir die polisie se vinnige optrede en ons hoop die res van ons vakansie sal sonder voorval wees.”

Kona het gesê Elvis en sy gesin is tans op soek na ander verblyf waar hulle die res van hul vakansie kan deurbring.