“Soms moet jy net aanvaar dat jou familie en almal om jou eintlik jou Hollywood is...” Met hierdie boodskap maak die fliek, Hollywood in my Huis, gereed om eersdaags in teaters landswyd te open.

Hier is die lokprent:

Hierdie romantiese komedie het reeds op 31 Augustus 2014 by die kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai aandag getrek en met drie toekennings weggestap: Kennerskeuse, gehoor-gunsteling en gehoor-gunsteling aktrise.
'Hollywood in my Huis vertel die storie van ‘n doodgewone matriek meisie.'

Hollywood in my Huis vertel die storie van ‘n doodgewone matriek meisie, Jana van Tonder (Christia Visser), en haar ouers, Beatrice en Tos van Tonder (Nicola Hanekom en Louw Venter), asook Frikkie (Edwin van der Walt), haar beste vriend en sy ouma, wat aan die verkeerdekant van die spoor woon.

Jana se pa is werkloos en haar ma bedryf ‘n skoonheidssalon vanuit ‘n karavaan in die voorplaas.

Die volwassenes se drome is verpletter, tog styg Jana se drome vêr bo haar beskeie omstandighede uit. Dit is 2004 en haar matriekafskeid is om die draai.

Wanneer sy op televisie sien hoe Charlize Theron die Oscar wen besluit sy daar en dan om haar matriekafskeid in haar eie “Hollywood Red Carpet” glansgeleentheid te omskep.

‘n Besluit wat haar voor moeilike keuses te staan bring en forseer om met die werklikheid van die lewe kennis te maak.

Sy is heimlik verlief op Brandon (Viljé Martiz) - die skool se hartbreker en tenniskampioen – en is vasbeslote om hom te vra om saam met haar matriekafskeid toe te gaan, selfs al het hy pas met die skool se mees populêrste meisie, Angelique (Leandie du Randt) uitgemaak.

Jana ontsien geen moeite nie en kom nie eens agter dat haar beste vriend, Frikkie sy gevoelens vir haar probeer wys nie...

Hollywood in my huis tref die plaaslike silwerdoek op 26 Junie 2015. Verspreiding vind plaas deur Indigenous Film Distribution.

[caption id="attachment_97911" align="alignnone" width="620"]Christia Visser en Edwin van der Walt Christia Visser en Edwin van der Walt[/caption]