[caption id="attachment_155782" align="alignnone" width="600"]Foto: Brian To/WENN.com Foto: Brian To/WENN.com[/caption]

Die Lost in Translation-aktrise is in 2014 met die reklamebaas getroud, maar volgens bronne is hulle nie ’n paartjie nie.

“Hulle is sedert die somer (van 2016) nie meer saam nie,” vertel iemand in die binnekring aan die tydskrif People.

Scarlett, wat baie privaat is, het al vantevore gesê hoe uitdagend die huwelik vir haar is.

“Ek dink dit verg werk om in ’n toegewyde verhouding te wees,” het sy aan die Amerikaanse joernalis Barbara Walters gesê tydens haar program The 10 Most Fascinating People of 2014.

“Dis baie maklik om ’n situasie te verlaat as dit ongemaklik raak. Dis ’n uitdaging. Maar as dit werk, is dit werklik die moeite werd.”

Sy en Romain het in 2012 begin uitgaan en het ’n tweejarige dogter, Rose Dorothy.

Scarlett het ’n rits mislukte verhoudings gehad, met onder meer die sangers Jack Antonoff en Justin Timberlake, asook die akteurs Josh Hartnett en Sean Penn.

Sy was voorheen getroud met Ryan Reynolds. Die uiters private paartjie is ook in 2010 ná twee jaar saam uitmekaar en in 2011 geskei. Ryan het intussen liefde gevind met die aktrise Blake Lively, die ma van sy twee jong kinders.

Maar hoewel sy sukkel met sake van die hart, gaan dit voor die wind met haar loopbaan. Die tydskrif Fobes het haar aangewys as die rolprentster wat die meeste geld in 2016 gemaak het – haar flieks het altesaam $1.2 biljoen by die loket verlede jaar laat inrol.

Sy was in 2016 ook die aktrise wat die meeste geld van alle tye laat inrol het, volgens Box Office Mojo.

Aanhangers kan haar in 2017 op die silwerdoek sien in Rock That Body en Ghost in the Shell en sy verfilm ook die volgende Avengers-fliek, Infinity War.

– Cover Media