Omstreeks 1982 het die baba-agtige poppe bekend as die Cabbage Patch Kids in ’n wêreldwye fenomeen ontaard.

Dit was nie net die kleinspan wat gekoor was nie; videomateriaal bestaan van ouers wat mekaar te lyf gaan in die stryd om een van die poppe in die hande te kry.

Lees ook: Oorlewingswenke vir ouers

So het dit in die 80’s gelyk waar die Cabbage Patch Kids te koop was . . .

Hulle was nie wat as tradisioneel “mooi” poppe bestempel sou word nie. Maar hulle was geheel en al troetelbaar met hul mollige lyfies en diep kuiltjies in die wange.

Die Cabbage Patch Kids het eers as Little People bekendgestaan en is deur ’n 21-jarige kunsstudent, Xavier Roberts, vervaardig. In 1982 is die naam Cabbage Patch Kids gevestig toe Xavier se maatskappy kleiner weergawes van die handvervaardigde “kinders” begin vervaardig.

Die naweek van 20 Februarie 2016 keer die Cabbage Patch Kids terug, maar dié keer is die mollige lyfies en sagte oë deur tegnologie aangeraak. Natuurlik moes die naam ook effens aangepas word.

Lees ook: Nuttige wenke om jou spruit te beskerm

Die Baby So Real Cabbage Patch Kid wat by die Internasionele Speelgoedskou in New York ten toon gestel word, het fel LED-oë in blou, groen of bruin.

Bewegingsensors laat haar slaap sodra jy haar neersit. Sy giggel as jy haar kielie, en jou nuwe “baba” gaan lag, praat en baba-koergeluidjies maak. As sy ’n bietjie olik voel, gaan die wangetjies rooi gloei. O ja, moenie vergeet nie, Baby So Real Cabbage Patch Kid het ’n eie app sodat kinders hul poppe kan sinchroniseer om punte bymekaar te maak.

Kitsfeite oor die oorspronklike Cabbage Patch Kids

  • Xavier Roberts se handtekening het op elke pop se lyfie verskyn. Wat min egter weet, is dat die kleur van sy handtekening elke jaar verander het.
  • Een van die redes hoekom die Cabbage Patch Kids so gewild was, was in alle waarskynlikheid die bewering dat elkeen uniek was. Hulle kon dus op die oog af dieselfde lyk, maar daar was verskille in haarkleur, klere, oogvorms en kleur.
  • En dan die groot plus: Cabbage Patch Kids is nie gekoop nie; hulle is “aangeneem”. Elkeen van die poppe het ’n geboortesertifikaat met ’n noem- en middelnaam daarop aangedui.
  • Pat en Joe Prosey van Cleveland, Amerika, het ’n versameling van naastenby 5 000 Cabbage Patch Kids-poppe. Hulle noem hulle egter nie poppe nie, maar kinders. In 2015 kon jy die versameling vir “net” $360 000 koop.
  • Tydens ’n besoek aan die algemene hospitaal BabyLand in Cleveland kan jy die “geboorte” van ’n Cabbage Patch Kid bywoon.

Bronne: cabbagepatchkids.com, history1900s.about.com, hintv.com, mashable.com

Saamgestel deur Annelene Oberholzer

Ander stories op Huisgenoot.com

Man se liefdestaak om sy vrou weer te sien glimlag

Seekoei maak man dood op Valentynsdag

K2-tweeling se foto’s gebruik vir aanlyn leuens

Byna helfte van SA is opgaarders – is jy een?