Rian van Heerden, aanbieder van die bekroonde Complimentary Breakfast-program op Jacaranda FM, bly aan.

Hy sou die stasie aan die einde van vandeesmaand verlaat, maar is in ’n dramatiese wending oortuig om as aanbieder van sy gewilde program aan te bly.

Gisteroggend het Jacaranda FM se programbestuurder, Gavin Meiring, Rian se program onderbreek om te verduidelik verskeie luisteraars het versoeke gerig dat Rian moet aanbly. Hy het ook van die boodskappe oor die lug gelees.

’n Baie verbaasde en aanvanklik huiwerige Rian het daarna besluit om die lyne vir sy luisteraars oop te stel sodat hulle hul stem kan laat hoor.

Rian het ’n dag geneem om te beraadslaag en gegewe dat hy nog ’n paar opwindende goed op sy emmerskoplys wil afmerk, het hy vooruit verskoning gevra dat hy ’n bietjie langer aanbly.

Hy sien daarna uit om vir luisteraars meer lag en trane te bring en natuurlik ook om jou warm onder die kraag te maak.

Waarmee hy hom daarna gaan besig hou, is nog ’n goed bewaarde geheim wat net Rian weet.

“Rian is ’n uitmuntende uitsaaier en ons by Jacaranda FM is regtig bly hy het besluit om te bly,” sê Gavin.

“Sy handelsmerk van omstrede, snaakse en roerende inhoud, gemeng met meer van die musiek waarvan jy hou, is wat hom die gewildste oggendprogramaanbieder in Gauteng maak.”