Bekendes soos Ellen DeGeneres, Neil Patrick Harris en Jesse Tyler Ferguson het hulle tot Twitter gewend om hul ondersteuning te toon aan  Wentworth Miller nadat hy onthul het hy is gay.

Die Prison Break-akteur (41) het verklap hy is gay toe hy onlangs standpunt ingeneem het teen Rusland se wetgewing teen lesbiese, gay, biseksuele en transgender mense deur te weier om die Internasionale Filmfees in St. Petersburg by te woon omdat hy gay is. Sterre soos Ellen DeGeneres en Neil Patrick Harris het hul goedkeuring getwiet.

Ellen het geskryf: “Ek is trots op Wentworth Miller omdat hy hom ten gunste van gelykheid uitgespreek het. Rusland weet nie wat hulle misloop nie.”

Neil het bygevoeg: “Welgedaan, Wentworth Miller. Bravo.”

Die Modern Family-akteur Jesse Tyler Ferguson, wat onlangs getroud is met Justin Mikita, het ook getwiet: “So trots op #WentworthMiller. Om uit die kas te kom kan vreesaanjaend en moeilik wees, maar om uit te kom om ’n boodskap van verdraagsaamheid te stuur is heroïes.”

Wentworth het ’n brief geskryf in reaksie op die uitnodiging. Daarin skryf die Brits-gebore akteur hy kan weens die land se standpunt nie “met ’n skoon gewete” die geleentheid bywoon nie. Hy het geskryf: “Dankie vir jul vriendelike uitnodiging. As iemand wat dit in die verlede geniet het om Rusland te besoek, en wat ook tot ’n sekere mate op Russiese voorouers aanspraak kan maak, sou dit my gelukkig gemaak het om ja te sê. As ’n gay man moet ek dit egter van die hand wys.

“Ek is diep bekommerd oor die houding teenoor en die manier waarop die Russiese regering gay mans en vroue behandel. Die situasie is op geen manier aanvaarbaar nie, en ek kan nie met ’n skoon gewete deelneem aan ’n geselligheid wat gehou word deur ’n land waarin mense soos ek sistematies hul basiese regte om openlik te leef en lief te hê misgun word nie.

“Miskien, as en wanneer omstandighede verbeter, sal ek vry wees om anders te kies.”

Die brief is ook geplaas op die gayregtegroep GLAAD se webtuiste.