Die aktrise Paula Patton het die nuwe jaar begin deur die Blurred Lines-sanger toegang tot jong Julian te weier nadat die kind gesê het sy pa het hom ’n pak slae gegee.

Hy het onderwysers aan sy skool daarvan vertel en dié het die voorval by beamptes van Los Angeles se afdeling kinder-en-gesinsdienste aangemeld. Hulle het toe met ’n ondersoek begin.

Volgens TMZ het Paula om ’n dringende bevel aansoek gedoen om Robin se kontak met Julian tot dagbesoeke onder toesig te beperk.

In regsdokumente sê Paula aan Robin: “Julian is bang vir jou.”

A photo posted by Promiflash (@promiflash) on

Lees ook: Brad Pitt en Angelina Jolie reik verstommende verklaring uit

Robin het erken hy het sy seun pak gegee en gesê: “Baie selde en net as ’n laaste uitweg sal ek ligte slae gebruik, maar volgens wetlike voorskrifte: oop hand op die sitvlak. Ek en Paula het in ons huwelik op dié soort dissipline ooreengekom.”

Boonop beweer ’n oppasser sy het Robin voor sy seun sien dagga rook. Paula beweer ook Robin het in Junie verlede jaar dronk by Julian se kindertuin-prysuitdeling opgedaag.

Robin beweer Paula neem deur dié toesigstryd wraak omdat hy haar belet het om sy pa, Alan Thicke, se begrafnis verlede maand by te woon.

Lees ook: Regter bekragtig Brangelina se toesigooreekoms

In sy dokumente, wat TMZ verkry het, skryf hy: “Paula het nie ’n goeie verhouding met my pa gehad nie en hom dikwels sleggesê. Dis hoekom ek haar nie op sy begrafnis wou hê nie.”

Luidens berigte het die twee partye op Donderdag 12 Januarie vanjaar ’n verhoor bygewoon waar ’n gesinsadvokaat Paula se versoek van die hand gewys het om Robin se gesamentlike toegang te beperk en hom ’n dwelmtoets te laat ondergaan.

Kinder-en-gesinsdienste se ondersoek duur voort.

Cover Media