Daar is selfs ’n olie-erfgenaam in die Amerikaanse deelstaat Texas wat op die sitplek van haar geliefde 1964-Ferrari 300 America begrawe is. Die motor is in ’n betonbunker in die grond gesit en met sement gevul sodat haar motor nie gesteel word nie.

Hier is ’n paar bekendes en waarmee hulle begrawe is.

Roald Dahl (1916-’90)

Die geliefde Britse skrywer, vegvlieënier en draaiboekskrywer is begrawe met iets wat hy in sy werk geprys het – sjokolade. In Boy het hy geskryf een van sy gelukkigste herinneringe is toe Cadbury van tyd tot tyd nuwe sjokoladestafies na sy kosskool gestuur en gevra het die kinders moet dit beoordeel. Sy fantasieë oor in ’n sjokoladefabriek werk, was die inspirasie vir Charlie and the Chocolate Factory, wat vanjaar sy 50ste bestaansjaar vier.

Hy is ook begrawe met ’n bottel Boergondiese wyn, ’n snoekerstok, potlode en ’n kragsaag.

Harry Houdini (1874-1926)

Harry is begrawe in die kis wat hy in sy onderwatertoertjies gebruik het. Dit was ’n spesiaal ontwerpte soliede bronskis met ’n lugdigte binnesak.

Hy is begrawe met sy kop op ’n stel briewe van sy geliefde ma, Cecilia Weiss, wie se dood in 1913 hom diep geraak het.

John F. Kennedy (1917-’63)

Die 35ste president van die Verenigde State het stukkies walvisbeen en ivoor versamel wat met prente en ontwerpe versier is. Dit staan as knutselwerk bekend. Hy is begrawe saam met ’n walvistand van 24 cm, waarop die knutselwerkkunstenaar Milton Delano die presidensiële seël aangebring het. Ander items sluit in briewe van sy vrou en kinders en ’n paar goue mansjetknope.

Frank Sinatra (1915-’98)

Hy het daarna verwys as die nektar van die gode. Die Amerikaanse sanger is in sy graf met ’n bottel Jack Daniel’s-whiskey, ’n pakkie Camel-sigarette, ’n Zippo-aansteker en ’n dollar se 10 c-muntstukke. Die geld is vir ingeval hy ’n openbare telefoon moet gebruik.

Andy Warhol (1928-’87)

Die kunstenaar en filmvervaardiger was werklik dol oor parfuum en is met ’n bottel Estée Lauder begrawe. Hy het op ’n keer erken: “Soms glip ek by partytjies weg en gaan kyk in die badkamer watter reukwater hulle het. Ek kyk nooit na iets anders nie – ek snuffel nie rond nie – maar ek is behep met obskure parfuums wat ek nog nooit beproef het nie of ou gunstelinge wat ek lank laas geruik het. As ek iets interessants sien, kan ek my nie keer nie; ek moet dit aansit. Maar die res van die aand is ek paranoïes dat die gasheer of -vrou dit agterkom.”

Vandag pryk sy naam op sewe verskillende parfuums.

Bob Marley (1945-’81)

Die reggae-ster is graf toe met sy rooi Gibson Les Paul-kitaar, ’n sokkerbal, ’n Bybel en ’n bietjie dagga.

Britney Spears (1981-

Sy leef nog, maar die popprinses het op ’n keer oor haar chihuahua Lucky gesê: “Die farao’s is met geliefde besittings begrawe. Ek wil dit met Lucky doen. Sy moet saam met my graf toe.”

– Megan Bursey

Bronne: smithsonianmag.com, mandatory.com, houstonpress.com