Die trekklaviermeester Nico Carstens het nooit op die verhoog gepraat nie. Sy vingers het die praatwerk gedoen. So onthou bekendes dié jazz-musikant wat Dinsdag in die ouderdom van 90 oorlede is.

[caption id="attachment_143821" align="alignnone" width="601"]Nico en sy trekklavier . . . Foto: Verskaf Nico en sy trekklavier . . . Foto: Verskaf[/caption]

“Ek het nog nooit so baie respek vir iemand gehad soos vir Nico nie,” vertel die countrysanger Lance James.

Lance het op ’n kol saam met Nico en sy orkes getoer.

“Hy was op ’n internasionale standaard gewees. Niemand kon die trekklavier soos hy bespeel nie.

“Wanneer ek oorkant hom op die verhoog gestaan het, het ek hom bewonder soos ’n seun sy held bewonder.”

Lance sê wat hom selfs meer beïndruk het, is hoe pynlik netjies Nico altyd was.

LEES OOK NICO CARSTENS SE ROERENDE LAASTE ONDERHOUD IN HUISGENOOT-TYDSKRIF

“Hy het altyd mooi aangetrek en in sy 90 jaar op aarde was hy nooit laat vir ’n vertoning nie.”

Wat Lance die beste van Nico onthou, is sy liefde vir duur motors.

“Hy het in ’n stadium ’n Lincoln Continental gehad. Dit moes die enigste een in Johannesburg gewees het.”

Die Jantjie-sanger Anton Goosen sê Nico was een van die musikante wat hom geslyp het.

“Hy was ’n geweldige ikoon vir my,” sê hy.

“Veral Nico en Anton de Waal se werke. Hulle twee was my rolmodelle.

“Ek onthou nog die verhaal van die liedjie Hasie, wat Nico en Anton saam opgeneem het. Anton het die lirieke nog op ’n stuk toiletpapier geskryf en hulle het daarmee na die ateljee toe gegaan en dit opneem,” sê Anton.

Anton vertel Nico het nie daarvan gehou wanneer iemand na hom verwys het as ’n boeremusiek-musikant nie.

“Hy het hom beskou as ’n jazz-musikant. Sy Zambezi-werk het getuig van sy liefde vir jazz. Hy was sy tyd beslis vooruit.”

Volgens Basie Burger, Nico se kitaarspeler, was hy altyd ’n perfeksionis.

“Hy sou nooit ’n akkoord verkeerd speel nie. Alles was altyd op die regte tempo.

“Ollie Viljoen het hom eenkeer gevra om ’n liedjie vir hom te komponeer. Nico het teruggegaan na sy kamer en ’n uur later met ’n meesterstuk teruggekom.”

Basie onthou ook hoe netjies Nico was.

“Wanneer Nico gaan inkopies doen het, het hy seker gemaak hy koop die hele reeks van ’n spesifieke baadjie: die rooie, bloue, groene; al die kleure wat hy in die hande kon kry.

“Dit was amper soos sy vinnige motors gewees. Hy het baie daarvan gehou om mooi te lyk.”

Basie sê hoewel dit Nico se tyd was, laat hy steeds ’n leemte in ons musiekbedryf.

“Hy was die vader van die trekklavier. Hy het die vlammetjie nog altyd aan die brand gehou.”